So ‘n ietsie oor myself...
Ek kan nie juis maklik oor myself praat nie. Ek dink, dit is omdat dit maar ‘n droë onderwerp is om oor te praat.
Ek is getroud en het 5 kinders, 4 meisies en ‘n seun. Ek het in moeilike omstandighede groot geword en ek was nog baie klein toe die welsyn ons van my ouers weg geneem het. Dit was ook ‘n welsynsbeampte wat agter gekom het dat daar fout met my oë is en my toe na die skool vir blindes in Worcester, wat nou bekend staan as die Pionier skool, laat stuur het. In 1973 het ek tot bekering gekom en ongeveer 3 maande later het ek vir ons Here begin werk en so ver ek kan onthou was daar net een jaar van toe af wat ek nie heeltemal betrokke by die werk van ons Here gewees het nie en dit was in 1982. Ek is volgens my vrou en van my vriende ‘n fiksheid verslaafde en as dit so is , is dit ‘n heerlike verslawing.
Toe ek my eie potjie moes begin krap, was werk moeilik om te kry en as jy nog gesiggestremd is, was dit net daardie bietjie nog moeiliker. So, ek kon destyds as gesig gestremde nie maklik werk kry nie en toe ek vir die werk as skakelbord operateur op Anglo Platinum in Rustenburg aansoek gedoen het, was ek so dankbaar om net die kans te kry om vir ‘n werk aansoek te mag doen, dat ek vir die persoon wat my geneem het vir die onderhoud gesê het, dat as ek die werk kry, ek of by daardie werk sal aftree, of hulle sal my begrawe terwyl ek nog daar werk en 39 jaar en 10 maande later kon ek deur die genade van ons Here daar aftree.
Toe die tegnologie so ontwikkel dat rekenaars met ‘n mens kon praat, was dit soos tronk deure wat vir my oopgaan. In die verlede as ek ‘n brief getik het en ek maak êrens ‘n fout moes ek die papier uithaal en van voor af begin, omdat ek nie kon sien om die fout reg te maak nie. Nou met die rekenaar wat met my praat is dit hemel op aarde.
Ek werk gemiddeld 10 plus uur op ‘n dag in my e-pos bediening, wat bestaan om te skryf wat ons Here vir my gee en mense se vrae, waar ek kan, te antwoord.
Sien jy, nou nie juis vreeslike boeiende lees stof nie maar baie dankie dat ek dit met jou kon deel.
Mag ons Here jou seën in dit wat jy op hierdie webtuiste mag vind wat jou interesseer.
Sakkie Parsons
Lees my getuienis »
E-pos Bediening
Die Here het vir my laat verstaan, die mense sal jou vrae vra en jy moet hulle antwoord.
Soms stuur iemand vir my ‘n vraag en dan sê ek vir ons Here, want ek kan dit tog nie vir Hom wegsteek nie. “Here, U weet ek weet nie hoe om hier te antwoord nie maar U het my hierdie bediening gegee en U moet asseblief nou net help." Dan gaan sit ek en ek neem my Bybel en die bronne wat ek as geloofwaardig beskou en ek skryf. Dan, soms as ek klaar gelees het wat ek geskryf het, soos destyds met van my liedere, gaan ek heerlik aan die huil as ek sien wat ons Here in ‘n mens se lewe kan doen.
Ek stuur weekliks e-pos aan mense wat dit graag wil ontvang. Indien jy ook graag e-pos van my wil ontvang, sluit asseblief aan by my E-pos Bediening. Jy kan die e-pos ook op die E-pos Bediening bladsy vind.
Sluit aan!
Getuigskrifte
Goeiedag Sakkie,
Ek wil baie dankie se vir God dat hy jou gelei het in jou omstandighede om te doen wat jy nou doen! Jy het my al so gebless met jou mails! Aan God alle
eer!
Hier is my storie: Ek`s `n 19-jarige vrou, wel seker maar nog `n dogtertjie, ek weet nie of ek nou oom moet se of nie? Jy het vir my `n mail gestuur oor hoe amazing God is. Dat hy selfs die wurmpie raaksien onder die boom en vir hom sorg. So 6 maande terug het ek beplan om `n einde te maak aan alles. Ek het begin black-outs kry en as ek weer bykom staan ek met `n bottel pille in my hand en beplan alles, hoe ek gaan baai se, wat en waar ek dit gaan doen. Ek het my boeglam geskrik maar vir een of ander rede het niks meer saak gemaak nie. Nie eers die feit dat ek gaan hel toe gaan as ek selfmoord pleeg nie. Ek het net nie meer omgegee nie.
Ek het briewe geskryf op my rekenaar aan almal wat ek ken om totsiens te sê. Ek was klaar gewees met die lewe. Toe ontmoet ek die wonderlikste man op hierdie aarde. Iets om dit weer die moeite werd te maak om asem te haal.
Op `n tyd het ek so goeie verhouding gehad met God, en iewers het ek dit veloor. Ek het al soveel stupid goed gedoen in my lewe dat ek voel God kan mynie vergewe nie. Ek kan myself nie eers vergewe vir alles nie. Ek voel nogsteeds so en dit sal seker lank vat voor ek myself sal kan vergewe en dan toelaat dat God my vergewe. Toe kom jou mail deur van hoe God selfs die ou wurmpie sien onder op die gras en ek besef, hoeveel keer is my lewe net nie gespaar nie ek weet ek moes dood gewees het. Was dit nie net God se genade nie? As my God die wurmpie raaksien hoeveel meer gee God net nie om vir my nie?
Ek het my lewe gehaat, myself gehaat, mense wat my al seer en stukkend gemaak het gehaat. Ek doen nogsteeds seker maar dis al beter en hier kom verander die prentjie van ‘n wurmpie op die grond my lewe so ‘n bietjie.
Dankie baie vir jou mails dis `n blessing!!
Groete,
Mariëtte
Lees meer »
« Terug na bo
“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen." Judas 1:24-25