Sakkie Parsons E-pos Bediening

Getuigskrifte

16 Mei 2013

Goeie more Sakkie,

Hiermee wil ek net graag baie dankie sê vir die Heilige Gees wat jou so lei en vir ons almal n inspirasie is.

Dit gaan maar rof by die werk en ontvang baie epos rondom die werk van dinge wat gedoen moet word, of al klaar moes gewees het en dit laat mens maar stres, maar ai, as ek jou epos sien en ek lees dit is dit of mens weer rustig word en nuwe krag kry.

Partykeer het die onderwerpe so te doen met ons daaglikse pligte, dat dit voel of jy net geweet het wat nodig is.

As jy al ooit gewonder het oor jou posisie in die lewe, dan wil ek vir jou sê jy is presies waar ons Hemelse Vader jou die nodigste het. Die werk wat jy doen, die moeite wat jy insit om die bediening te versorg en so baie mense wat daardeur geraak word. Mens raak so betrokke in jou eie lewe, jou eie dinge, jou eie kinders, jou eie probleme - mens vergeet dat daar baie ander rondom ons is wat erger daaraan toe is.

Soms wonder mens, of jy twyfel, en vra ons Here hoekom dit, Here hoekom ek? Here hoekom nou? Dan dink jy, sjoe, dit was nou seker die ergste ding wat met my gaan gebeur en dan gebeur daar nog iets erger.

Ons is ook maar mens en raak sommer benoud oor wat volgende gaan gebeur.

Ek is in 2002 geskei nadat my man iemand anders ontmoet het en ek en my seun, toe 3 jaar oud, het alleen gebly. In 2007 is ek met aggressiewe borskanker gediagnoseer. Die knop en kliere is verwyder is deur 8 chemoterapie sessies en 36 bestraling sessie. My seun was toe maar 8 jaar oud en hy het al die dinge saam met my beleef - die siek word, die hare wat uitval. Toe het ons mos gedink die ergste is verby. Maar in 2008 is my seun gediagnoseer met ‘n gewas op die klein brein en moes gaan vir die inplanting van ‘n pompie wat die vog dreineer wat vir altyd daar moet bly en ‘n week later is die gewas verwyder. Ai, dit is maar swaar vir ‘n moeder se hart.

Maar hier kan ek vandag sê: “Dankie Here!” Ons al twee is gesond met die genade van Bo. Ons is positief en wat ons geleer het hieruit is dat elke dag spesiaal is en dat almal om ons spesiaal is.

Dankie vir jou inspirasie, motivering en aanmoediging!

Antoinette

Bladsye

“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen." Judas 1:24-25