Sakkie Parsons E-pos Bediening

My Getuienis

My naam is Sakkie Parsons.

Ek is gebore in Port Elizabeth op die 30ste April 1947.
Ek kan nie baie van my kinderjare onthou nie.  Ek dink, dat ons Here ‘n soort meganisme in jou brein geïnstalleer het, wat sekere dinge of “delete,” of so diep in die argiewe bêre, dat dit nie sy kinders moet pla nie. Op ‘n dag nadat ons, nog baie klein, dit is nou ek, my boeties en sussies, saam met ons ouers gewees het, het die welsyn ons van ons ouers weggeneem.

Ek kan darem twee insidente van daardie vooraf hofsaak baie mooi onthou. Die een was, dat ons in die gang gewag het om ons beurt voor die regter of landdros te kry, ek het die hele tyd met my rug teen die muur gestaan, want daar was ‘n groot gat agter in my broek en ek het nie ‘n onderbroek aangehad nie. Eintlik het dit my toe nie veel gehelp nie, want toe ons uiteindelik in die hof verskein het die een oom wat baie gepraat het my aan die skouers geneem en my voor die ander oom wat daar gesit het in die ronde laat draai.

Daarvandaan is ons na ‘n pleegmoeder, wat ons werklik sleg behandel het. Sy het ander kinders in haar pleegsorg gehad sowel as haar eie kinders.  Later jare as ek terug gedink het aan haar, het die heks in die Hansie en Grietjie verhaal my altyd aan haar laat dink. Ek het nie bed nat gemaak nie maar my boeties het en dan het sy die nat lakens in hulle monde gedruk. Op ‘n dag kom die welsyn toe en neem my boeties en sussies weg en los my daar alleen.  Dit was nou werklik een van die grootste traumatiese gebeurtenis in my kinderlewe. Eers was ek van my ouers weggeneem en nou was my boeties en sussies ook van my weggeneem en ek moes by hierdie verskriklike tannie bly. Ek moes agter bly want ek kon nie na ‘n gewone weeshuis gaan nie omdat hulle ontdek het, dat daar fout met my oë is.

Ek het my skool loopbaan in die destydse skool vir blindes op Worcester gehad. Toe ek uit die skool uit is, het ek later werk op die skakelbord van Rustenburg Platina myn, beter bekend as RPM gekry.
Ek kan onthou dat ek so dankbaar vir die werk gewees het, nadat ek so lank vir werk gesoek het dat ek destyds vir Mnr Stander, wat my vir die onderhoud geneem het gesê het, dat as ek die werk kry, ek of daar sal aftree, of hulle sal my daar begrawe. Ek het Julie 1967 daar begin werk en 39 jaar en 10 maande later het ek daar afgetree.

Snaaks hoe klein dingetjies ‘n mens soms by bly. Ek kan niks eintlik van daardie eerste onderhoud onthou nie maar een ding het my bygebly. Toe ons uit die motor klim steek ek ‘n sigaret op en Mnr Stander sê vir my: “Sakkie, ‘n mens stap nooit jou potensiële nuwe werkgewer se kantoor met ‘n brandende sigaret in jou hand in nie.

In 1969 is ek getroud. Aan die begin van 1973, kom my broer Charlie en sy vrou een aand vir ons in Rustenburg kuier. Ek was destyds spesiaal lief vir Hanepoot wyn en het reeds lekker gesit en kuier toe hulle daar aankom. Verbaas wou ek toe weet wat kom hulle in die middel van die week van Brits af om vir my te kuier en wat sê my broer? Ons kom praat met jou oor die Here. Ek kan so goed onthou.  Ek het so gelag, ek dink die wyn het ook ‘n vinger in die “pie” gehad maar ek kon net nie ophou lag nie. Ek het later op die vloer gesit maar ek kon nie ophou lag nie. Hulle het toe met my gesels en daarna weer en weer gekom.

Ek het ‘n maand of wat later Jesus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker en op Woensdagaand 25 April 1973, een van die wonderlikste dae in my lewe, ‘n baie, baie koue aand is ek êrens op Hartbeespoort in iemand se swembad gedoop. ‘n Maand of twee later het ek vir ons Here begin werk en dit was wonderlike jare.

Eers was ek vir vyf jaar jeugleier en ‘n verdere twee jaar of so diaken ook. Ek ontdek êrens in 1981, dat my vrou ‘n verhouding met ‘n ander man het en in Desember van daardie selfde jaar verlaat sy my vir die man en ons skei. Vroeg in 1982 ontmoet ek weer ‘n dame wat saam met haar ma vroeër jare deel van ‘n koor gewees het wat ek afgerig het. Sy help my, soos een van Jesus se prinsesse  in 1982 deur al die gemors waarmee ek uit my vorige huwelik gekom het en moes hanteer. In November van daardie jaar besef ek dat ek mal verlief op haar is en ek vra haar om met my te trou. Op vier Desember 1982 is ons getroud en my prinses, Cornelia, word deel van my hele wese. Tot vandag toe dink ek dat een van die wonderlikste jare in my lewe was 1983.

In 1984 word ek gekies as jeugleier by die VEK in Rustenburg. Daardie jaar gebeur iets wonderlik wat ek met jou moet deel. As jeugleier, kontak ek en my vrou baie van die pinkster gemeentes in Rustenburg en maak die volgende ooreenkoms met sommige wat wou. Ons nooi julle een keer hierdie jaar na een van ons jeugbyeenkomste en reël iets spesiaal vir julle en dan doen julle dieselfde weer êrens in die jaar vir ons. Die rede agter hierdie “brainwave,” was om die Christen jongmense by mekaar uit te bring en te help, dat sodoende die Christen jong mense ‘n groter Christen vriendekring kan opbou. By geleentheid reël die AGS Sentraal toe, dat ons hulle besoek en hulle reël vir ‘n spesiale prediker om ons toe te spreek.

Nou wil ek hê dat jy uit die volgende ‘n kykie moet kry in hoe fyn ons Here ‘n ding in ‘n mense se lewe, ja, selfs vandag nog steeds beplan. Iets gebeur toe daardie dag, ek kan nie meer onthou wat nie maar dit veroorsaak dat ek die aand laat by die jeugdiens uitkom. Op pad na die ingang van die kerk loop ek nog met myself en raas, oor watse advertensie die jeugleier van die VEK gaan wees as hy laat by die kerk instap. Dit egter was toe uiteindelik die minste van my probleme. Want, toe ons instap fluister my vrou vir my dat die kerk stampvol is en dat daar net in die heel voorste bank nog plek oop is. Die jeugleier van die VEK moes toe maar in skaamte, ten aanskoue van ‘n stampvol kerk heel voor gaan sit. Nou moet ek eers weer afdwaal om iets anders met jou te deel. Ek gaan as ‘n reël nooit na vore as daar ‘n uitnodiging is nie.  Nie omdat ek nie wil nie maar omdat mense altyd soms uit simpatie, soms in oorhaastigheid, my of my kop vasgryp en vir my blindheid bid.  Daar was die geval, waar ‘n man selfs die blinde duiwel in my beveel het om my te verlaat. Daardie aand is die prediker se uitnodiging iets soos die volgende: “As hier iemand vanaand is wat vir die Here iets besonders wil vra, kom nou na vore en vra dit vir Hom.” ‘n Gedagte tref my toe. Hier sit ek nou heel voor. As ek nou opstaan en so antwoord op die uitnodiging, gaan ek mos nie mense daarop attent maak dat ek blind is nie en ek staan toe net daar op, steek my hande in die lig en sê vir ons Here.
Ek is nie ver geleerd nie.
Ek het nie baie talente nie maar ek vra.
Here gee vir my ook ‘n joppie om vir U te doen.
Niks besonders het gebeur nie.
Ek het nie snaakse gevoelens gekry nie maar ek het lekker gevoel, dat ek dit so lekker in die openbaar kon doen en dat niemand vir my oë kom bid het, terwyl ek vir iets heeltemal anders gevra het nie. Daardie aand na die diens terwyl ons huis toe ry kry ek die woorde van ‘n lied saam met ‘n wysie gestalte in my hart. By die huis gekom gryp ek gou ‘n bandmasjien en sing gou die lied op ‘n band, sodat ek nie die wysie of die woorde moet vergeet nie.

Ek wou so graag ‘n getuie vir ons Here wees. Dit was ook die titel van my eerste produksie naamlik:
“Julle sal my getuies wees.” Ek deel gou met jou die woorde van daardie lied.

Julle sal my getuies wees

Vers 1
Jy het jou bekeer jy is deur die doop bad.
En jy sê my vriend ek is op die nou pad.
En Sondae wil jy in die kerk sit.
Jy weet dit is reg om vir andere te bid.

Koor
Maar om handelinge 1 vers 8 op te som.
Julle sal krag ontvang as My Gees oor jul kom.
En julle sal My getuies wees.
Begryp jy my broer wat jy daar lees.

Vers 2
Dis goed as jy in die kerk wil getuig.
En as jy saam met die broers en susters wil juig.
En as jy so diep uit jou hart uit wil sing.
En as jy jou kinders na die Sondagskool bring.

Koor
Maar om handelinge 1 vers 8 op te som.
Julle sal krag ontvang as My Gees oor jul kom.
En julle sal My getuies wees.
Begryp jy my broer wat jy daar lees.

Vers 3
Dis goed as jy al hierdie dinge reg kry.
Maar luister my broer asseblief tog na my.
Is jy vol van die Krag moet jy uit beweeg.
En ‘n bietjie laat tap in ‘n wêreld dol leeg.

Koor
Want om Handeling 1 vers 8 op te som.
Julle sal krag ontvang as My Gees oor jul kom.
En julle sal My getuies wees.
Begryp jy my broer wat jy daar lees.
Verstaan jy nou broer wat jy daar lees.

Han 1:8  "...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde."

Later in die jaar, is dit ons beurt om iets spesiaal vir die jeug van die AGS Sentraal te reël. Iemand vertel my toe van die blinde sanger pastoor Willie Botha en stel voor dat ek hom nader. Ek en Willie Botha was saam op skool en ek kontak hom toe. Na die diens gesels ek en Willie en hy luister na my lied en hy sê toe dat ek iets omtrent die saak moet doen. Aanvanklik het ek nie werklik gedink, dat dit die soort ding is wat ek sal kan doen nie, want ek is ‘n bietjie van ‘n introvert maar Willie het my ‘n paar keer gebel en gevra wat ek nou al gedoen het, totdat ek die bul by die horings gepak en die saak aangepak het. Om mee te begin, het ek nie geld gehad om so iets te doen nie.

Ek en my vrou bid toe oor die saak en ons besluit om die bankbestuurder te nader vir die fondse om ‘n produksie die lig te laat sien. Ons gaan sien toe die bankbestuurder en toe ons voor hom sit en hy ons vra, wat hy vir ons kan doen, sê ek vir hom, dat iemand seker nog nie vir hom geld vir so iets gevra het nie maar ek wil ‘n plaat gaan maak. Hy vra my toe, hoeveel ek wil hê en ek vertel hom. Ek hoor toe hoe hy sommetjies op sy “calculator” maak. Hy sê toe, dit is my maandelikse paaiement wat ek moet terug betaal en of dit reg met my is. Ek sê toe baie dankie, ons skud hande en ek stap uit met die wete dat ek die geld het. Ek sê altyd as ek oor hierdie besoek aan die bankbestuurder praat, dat ek wonder of ek tien minute in daardie kantoor gewees het.

Willie het my bly skakel en bly motiveer. In die verkiesing van die gemeente vir die verskillende ampte van 1985 stel ek my nie beskikbaar vir ‘n amp nie en met die liefde en genade van ons Here begin ek my sang bediening in 1985. Van ongeveer 1987 af is ek in die bevoorregte posisie, dat van ongeveer Februarie Maart van elke jaar min of meer al my naweke vir die jaar vol bespreek is. Ek het toe en ek sê dit nog vandag. Ek is nou nie ‘n Mario Lanza of ‘n Elvis Presley, of so iemand nie maar in al die jare het ek hierdie wonderlike genade van ons Here gehad, dat ek altyd gewillig was om waar Hy my ook heen laat nooi het, ek gegaan en nooit ‘n fooi gevra het nie maar ons Here het altyd voorsien.

In 1997, sien my vrou iets op my liggaam waarvan sy nie hou nie en sê ek moet by ‘n dokter uitkom.
Ek het gegaan en dit was Melanoom kanker. Die ergste van daardie tyd , was snaaks genoeg nie die behandeling nie en ek het dwarsdeur die behandeling nog elke naweek die honderde kilo’s gery om die Evangelie deur sang en woord te verkondig. Die ergste vir my was, toe ek en my vrou voor die dokter sit en hy op my vraag, van wat my kanse is, vir ons sê, dat as hulle dit nie kan keer nie, ek drie en as ek gelukkig is ses maande het om te lewe. Na die behandeling waar ek op Woensdag 10 Februarie 1999 my laaste inspuiting gekry het, kon ek skielik vir die een of ander rede nie meer so lekker aan die gang kom nie. Ek het myself betrap, dat ek anders as in die verlede, selfs dankbaar gewees het as ek ‘n naweek nie moes optree nie. Toe het ek ook optredes begin bedank en later vir almal gesê, dat ek nie meer optree nie. Ek wou so graag vir ons Here werk maar ek het nie meer kans gesien om ‘n hele naweek op die pad te wees en uit ‘n koffer te lewe en dan moes ek en my vrou albei Maandag oggend vroeg weer regmaak om te gaan werk nie. Ook het die laat nagte se bestuur my vrou begin vang. Maar ek wou so graag vir ons Here bly werk.

Toe, êrens in 2003, as ek dit nou reg het, sê my werkgewer vir ons, dat ons nou as gevolg van die tegnologie, by die skakelbord ook met ‘n rekenaar moes werk. Ek het niks van ‘n rekenaar af geweet nie en so ver my kennis gestrek het, kan ‘n blinde in elk geval nie op ‘n rekenaar werk nie. Ons vind toe uit van hierdie wonderlike tegnologie, wat ‘n rekenaar met jou laat praat en ‘n hele nuwe wêreld gaan vir my oop. Ek het dadelik gesoek wat ek met hierdie nuwe tegnologie vir ons Here kan doen en ons Here het gehelp en deur Sy genade, gaan my bediening elke dag van krag tot heerlike krag.

Dankie dat ek hierdie getuienis met jou kon deel.

Sakkie Parsons.

“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen." Judas 1:24-25