Wally Hayward Wedloop 2019

Liewe vriende,

Ons Here was weereens so oneindig goed vir my sodat ek te midde van omstandighede, my derde Wally Hayward Wedloop kon voltooi.

Ek sê te midde van omstandighede omdat my vrou, Cornelia, net ‘n paar dae voor die wedloop na ons Here is waar sy haarself in ewige heerlikheid bevind.

Sakkie Parsons & LizelleSien Fotos

Liewe vriende,

Ons Here was weereens so oneindig goed vir my sodat ek te midde van omstandighede, my derde Wally Hayward Wedloop kon voltooi.

Ek sê te midde van omstandighede omdat my vrou, Cornelia, net ‘n paar dae voor die wedloop na ons Here is waar sy haarself in ewige heerlikheid bevind.

Ek deel graag so paar foto’s hiervan met jou en spreek my opregte dank uit teenoor Lizelle wat saam met my as my gids die afstand van 10 km voltooi het in 1 uur, 24 minute en 52 sekondes.

Ek deel nou sommer met jou wat deur my gedagtes gegaan het toe ek later so oor my ondervinding op 1 Mei 2019 teruggedink het.  Asook so baie maratons en ultra maratons wat ek in die verlede in my jongdae aan deelgeneem het.

Weet jy, ek besef net weer opnuut hoe absoluut wonderlik waar die Woord is.  En dat ons Here met ons daardeur praat op so eg menslike in kinderlik verstaanbare taal en voorbeelde.

Wat ‘n pragtige vergelyking is dit nie om ons reis deur hierdie lewe met ‘n wedloop te vergelyk nie.

Onthou jy:

1KOR 9:24-27

24 Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang.

25 Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys.

26  Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ’n bokser wat met elke hou tref.

27 Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.

Ek deel dan nou met jou wat deur my gedagtes gegaan het, toe ek weer aan my Wally ondervinding teruggedink het en ons lewenswedloop met elke fase van die padwedloop ervaar het:

Die padwedloop:

Ons kom daar by die wegspring aan en daar is baie, baie mense en almal is te heerlik opgewonde vir die harde werk wat voorlê.

Die lewenswedloop:

Net so het ek dit al in my lewe opgetel.

Ek het die eer gehad om in my lewe op meer as een kerkraad te dien en ek was ook by meer as een geleentheid Jeugleier.  By een geleentheid vir 5 jaar in ‘n ry.

So het ek dit al belewe, dat mense wat aan die begin van ‘n jaar gekies word om op die een of ander raad te dien en ja, selfs dat nuwe bekeerlinge, vol vuur en vlam by die begin gereed maak om weg te spring en hulle alles te gee en dan klap die skoot.

 

Die padwedloop:

Nou is almal aan die gang en sommige mense wat agter jou gestaan het, kom vol grappies by jou verby en klap jou op die skouer en is vuur en vlam en draf sommer vinnig onder jou uit.

Die lewenswedloop:

Net so is dit soms met ons mense ook.

Ek het nou net uit die doopbad geklim en ek is die ene vuur en vlam en ek gaan nou dit en dat vir ons Here doen.  Ja, ek gaan die duiwel nou ‘n ding of twee wys en mede-Christene wat al baie ondervinding van hierdie wedloop het, wil my hiermee en daarmee help maar; nee broer, moet nie terughou nie – ons moet die duiwel wys, is my antwoord deur my woorde en optrede.

 

Die padwedloop:

Dit was egter vroeg in die oggend toe ons weggespring het en alles is perfek.  Die luggie is heerlik koel en vars.

Die lewenswedloop:

In my Christelike lewe is alles nog ook perfek. Almal ondersteun my en dit is sommer net lekker om deel van die gemeente te wees.

Die padwedloop:

Dan kom die son op en begin bak en daar lê nog ‘n lang pad voor en die bene word al so effe moeg en die longe moet ‘n bietjie harder werk om genoeg suurstof in my liggaam te kry. Daar is nou nie meer asem om nog grappies en geselsies te maak nie.  Dan is daar nog die steil bulte ook hier voor my en die wenpaal lê nog ‘n hele ent anderkant.

Lewenswedloop

Ja, nou begin dit ‘n bietjie moeilik raak om Christen te wees.

Net om 2 voorbeelde te noem van die legio wat daar is –

Ek kan nie sonder om my gewete te ignoreer na alles wat ek in die verlede op die TV gekyk het, meer kyk nie en mense wat my in die verlede nie aangestaan het nie, is my broer en my suster en my medemens.  Nou het ek ‘n etiket aan my; ek is ‘n Christen en ek moet daarvolgens lewe en dit is nie so maklik soos daar waar ek tussen net ander Christene is nie.  Ja en soms is daar steil bulte, mense of omstandighede wat dit uiters moeilik maak maar as Christen moet ek daaruit en daaroor, want die wenpaal lê anderkant.

Padwedloop:

Soms is daar by die son wat neer brand en die steil bulte voor my dan nog erger dinge wat by kom.

Want jy sukkel nog teen die een bult uit en soms so ‘n bietjie strompelend en dan skielik kom daar nog die krampe ook en glo my dit is iets wat nie lekker is nie.

Lewenswedloop:

Ja, soms in die lewenswedloop, terwyl die sonde op jou neerbak waarmee satan jou versoek, en terwyl jy jou volgende steil bult in jou lewe uit draf, eintlik so nou en dan, uit strompel, kom skielik die krampe, die een of ander groot tragedie  ook nog verder jou padlangs.

Padwedloop:

In ‘n wedloop is dit dan die tyd, dat jy vir jouself sê: Ek het al daardie weke se oefening ingesit en al die ander voorbereiding gedoen – nie om nou hier handdoek in te gooi nie.  My medalje wag by die wenpaal vir my – en jy vryf die kramp uit, drink ‘n pil vir krampe ens en jy draf verder.

Lewenswedloop:

Ja, dan as satan my by dit alles nog met die een of ander tragedie aanval en selfs amper óórval, draai ek my gesig net na Jesus en ek onthou my onverwelkte krans wag daar by die eindpunt vir my en ek draf voort.

Want, uiteindelik gaan ek by die wenpaal uitkom en gaan Jesus my medalje om my nek hang, soos wat Hy dit al om miljoene mense voor my op hierdie selfde wedloop gedoen het, wat my vooruit gegaan het en reeds oor die wenstreep gedraf of gestap of selfs gestrompel het – maar soos hulle voor my, moet ek net nie gaan staan of langs die pad gaan sit nie:

HEB 12:1-3

Met die oog vasgenael op Jesus sal ons nie uitsak nie

1  Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,

2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

So, vir my is die uiteindelike beste raad wat ek iemand kan gee wat ek in hierdie lewenswedloop langs die pad teëkom:

HEB 12:3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

Want jy sien – Ek het in my lewe ervaar, dat oor al die berge – en daar was ‘n paar baie hoë berge wat voor my opgedoem het, is daar uiteindelik net een oplossing wat werk:

PSM 18:32-34

32 Want wie anders as die Here is God?

Wie anders as God is ’n rots?

33 God rus my toe met krag;

Hy maak my pad veilig.

34 Hy maak my voete soos dié van ’n wildsbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig staan.

Groete,
Sakkie