Sakkie Parsons E-pos Bediening

Cornelia se getuienis

Ek deel graag met jou 'n persoonlike en wonderlike getuienis wat handel oor my vrou Cornelia. Maar eers wil ek vra dat jy die volgende gedeelte uit die Woord lees want ek sien daarin iets soortgelyks wat in ons lewe gebeur het:

2KON 20:1 “In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en Jesaja, die seun van Amos, die profeet, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie. 

2KON 20:2 Toe draai hy sy gesig na die muur, en hy het gebid tot die HERE en gesê: 

2KON 20:3 Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor U aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in U oë. En Hiskía het bitterlik geween. 

2KON 20:4 En Jesaja het die middelste voorhof nog nie uitgegaan nie of die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: 

2KON 20:5 Draai om en sê vir Hiskía, die vors van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die HERE. 

2KON 20:6 En Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg …”

Hier dan is die getuienis oor my vrou:

Ek weet nie presies wanneer dit begin het nie maar ek kan verseker onthou dat ek dit baie duidelik naby die einde van 2010 kon agterkom dat Cornelia baie vergeetagtig begin word het.

Ons het toe ons dokter gaan sien en die dokter wou dat ons ‘n Neuroloog gaan sien, maar my vrou wou nie. Toe ek later daaroor teruggedink het, het dit by my opgekom dat sy eintlik bang was vir wat sy sou hoor.

In 2011 het dit baie erg begin word. Soveel so, dat sy soms verward gevoel het en by meer as een geleentheid byvoorbeeld in die dorp vir ‘n ruk nie kon onthou waar sy nou is nie, maar sy wou nie ‘n Neuroloog gaan sien nie.

So in die middel van 2011 het dit so erg vir my begin raak, dat ek daarop aangedring het dat sy nou beslis ‘n Neuroloog moet gaan sien en ons dokter verwys ons toe, volgens ons dokter, na ‘n baie goeie Neuroloog. Ons gaan sien die Neuroloog toe op 23 Augustus 2011 en sy doen vir ‘n paar uur intensiewe toetse op Cornelia.

Op ‘n stadium kom die Neuroloog na my in die wagkamer en lê haar hand op my skouer en sê vir my: “Mnr Parsons ons is nog nie klaar nie, maar daar is ‘n probleem.”My dogter, wat die hele tyd tydens die toetse ens. by Cornelia was, kom toe ook op ‘n stadium na my en vra of ek nie dalk in die motor wil gaan sit waar ek myself meer gemaklik kon maak nie. Wat ek toe ook gedoen het.

Dit, maar net om vir jou te wys hoe deeglik die Neuroloog in haar ondersoek met Cornelia was.Toe alles verby is, sê die Neuroloog dat sy ons die volgende dag sou skakel met haar bevinding.

Op 24 Augustus, dit was omtrent 5 minute na 10, lui my foon en dit is die Neuroloog en sy vertel my, dat Cornelia Alzheimer het. Dit was die verskriklikste woorde wat ek ooit in my lewe gehoor het, maar toe hoor ek nog iets baie meer verskriklik. Op my vraag aan die Neuroloog oor hoe lank ek nog vir my vrou sou kon sorg, het sy geantwoord dat dit ongeveer ‘n jaar sal wees.

Ek sal nooit vir enige mens eens amper kan verduidelik van die smart en wanhoop wat oor my gekom het nie.Ek het aan die begin, wanneer ek in die oggend wakker geword het, onmiddellik aan my vrou gedink en dan begin huil en so, met hierdie verskriklike wete en smart in my hart, het ek elke dag begin en deurgestrompel terwyl ek kort-kort met ons Here oor hierdie verskriklike ding in ons lewe gepraat het. Ek het dit ook met ‘n paar van my Christen vriende gedeel en wanneer ek so gelei gevoel het, ook met van my ander mense aan wie ek die eer het om pos te stuur.

Cornelia het ook by dit alles begin verander. Sy, die sagte vroutjie wat ek al die jare geken het, het begin ongeduldig met my raak en soms ook lelik.As ek my gemoedstoestand kan probeer verduidelik, sal ek dit so stel: Toe ek in die middel sewentigs van die vorige eeu agterkom dat my oë nou vinnig agteruit gaan, en ek binnekort nooit meer my kinders se gesiggies sal kan sien nie, wat toe ook gebeur het, was dit vir my ‘n verskriklike berg om te klim, maar ons Here was langs my en ek is daaroor.

Toe my gewese vrou in 1981 vir my sê dat sy iemand anders ontmoet het, was dit vir my ‘n verskriklike berg om te klim, maar ons Here was langs my en ek is daaroor.

Toe hulle in 1997 by my melanoom kanker kry en op my vraag wat my kanse is, vir my sê as hulle dit nie kan keer nie, het ek 3 tot 6 maande om te lewe, was dit vir my ‘n verskriklike berg om te klim, maar ons Here was langs my en ek is daaroor.Hierdie berg egter, wat ek moes klim, se voetheuwels waardeur ek nog maar net beweeg het, was vir my al klaar hoër en steiler as enige vorige berg wat ek in my lewe al moes klim.

Ek het nie geweet hoe lank ek nog self my vrou sou kon versorg nie, maar ek het geweet dat daar ‘n verskriklike dag gaan kom waarop ek sou moes handdoek ingooi, en dit was vir my ‘n skrikwekkende vooruitsig.

Ek het gelukkig, wanneer die hartseer van die oomblik en verskriklike wete van wat voorlê my so oorval, ook onthou dat ons Here vir ons in Sy kosbare Woord laat skryf het:

ROM 8:28 “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.”

Ek moet ook erken dat ek soms nie naastenby verstaan waarom dinge in ‘n mens se lewe gebeur soos wat dit gebeur nie. Ek sê ook maar soos my groot held Paulus:

1KOR 13:12 ‘Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in 'n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees.

Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.”

Ek het net aanhoudend met ons Here, die meeste van die tyd huilend, oor hierdie groot tragedie gepraat en ek het ook geweet dat daar baie ander mense is wat ook saam met my bid. Gelukkig kon ek ook nog altyd van my bekering af onthou:

JAK 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 

JAK 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 

JAK 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.” 

Ek moet ook ruiterlik erken en ek het dit by geleentheid ook so aan ons Here genoem, dat ek baie keer gesukkel het met dié:

JAK 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge (beproewinge) val,” 

So het ek maar deur die dae, later maande, gestrompel en die voetheuwels van die verskriklike berg voor my geklim, en prys die Naam van ons Here, mense het saam met my gebid.

Met tyd het dit vir my gelyk of my vrou se toestand verbeter, maar aanvanklik wou ek dit nie in my mensheid erken nie, en het ek gedink dat dit maar die medikasie is wat die onvermydelike net uitstel.

Die Neuroloog het, toe ons haar die laaste keer wat ons by haar gewees het, gesê dat mens nie kan voorspel hoe die siekte gaan verloop nie, maar dat dit uiteindelik ‘n kwessie van tyd is.

My dogter wat ondervinding van dié soort ding het omdat sy baie met haar man se oupa, wie nou oorlede is te doen gehad het, sê toe nog later eendag vir my dat volgens dit wat sy sien, ons vir ‘n tweede opinie moet gaan. Want vir my persoonlik was Cornelia aan die einde van 2012, met ander woorde meer as ‘n jaar nadat ek daardie verskriklike woorde van die neuroloog moes aanhoor, in ‘n baie beter toestand as wat sy daardie dag met die eerste ondersoek was.

Ons bespreek dit toe met my dokter en dié verwys ons toe na ‘n ander nNeuroloog. 

Op Dinsdag 13 Augustus 2013 om 8.30 die oggend begin die Neuroloog met haar ondersoek en al die ander dinge wat sy nodig geag het.

Om 12.30 dié middag is hulle klaar en die neuroloog sê dat sy ons sal kontak met haar bevinding. Sy kontak ons toe ‘n paar dae later en sê dat Cornelia verseker nie Alzheimer het nie, maar ‘n tipe dimensie en hoe wonderlik dat Cornelia my nog kan oorleef!

Dus het sy eintlik vir my gesê, sonder dat sy self dit geweet het, dat ons Here Cornelia se toestand verander het en niemand weet beter hoe groot die verandering is wat plaasgevind het, as ek wat haar liefhet en elke dag vir ‘n lang tyd met die verskriklike agteruitgang moes saamgelewe het nie.

Ek verstaan nie, soos wat Hiskía dalk ook nie die slegs 15 ekstra jare verstaan het nie, hoekom ons Here Cornelia, na baie mense se baie gebede, van Alzheimer genees het en dat sy nou met ‘n soort dimensie en steeds met kwaai artritis sit nie.

Ek gaan nie so arrogant wees om met my klein verstandjie te probeer uitwerk hoe God Almagtig, redeneer nie. Ek is soos my groot held Paulus terdeë bewus:

1 KOR 13:12 “Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in 'n dowwe spieël,maar eendag sal alles vir ons glashelder wees.

Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan,net soos God my nou ten volle verstaan.”

Sê ons wonderlike Here nie self ook aan ons nie:

JES 55:8 Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die HERE. 

JES 55:9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes.” 

Hoe wonderlik heerlik om na ons huidige omstandighede te kyk en om dit te mag uitjubel:

PSM 139:2 “U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 

PSM 139:3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 

PSM 139:4 Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al. 

PSM 139:5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê U hand op my. 

PSM 139:6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.“

Vir die huidige is dit vir my te wonderlik om te belewe dat Cornelia se toestand vandag baie beter is as wat dit 2 jaar gelede was toe die Neuroloog vir my gesê het dat ek nog net ‘n jaar self my vrou sal kan versorg.

Nou huil ek nie meer as ek in die oggend wakker word en aan my vrou dink nie.

Nou word ek in die oggend wakker en ek onthou met dankbaarheid in my hart hoe ek vandag na my vrou en my eie omstandighede moet kyk en ek haal hier die ouer vertaling aan, omdat dit die bewoording is wat in my gedagtes is, wanneer ek aan my vrou en my eie omstandighede dink:

FIL 3:14 “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 

FIL 3:15 Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar.” 

Daarom my vriendin / vriend. Moet nooit in wanhoop verval in jou omstandighede nie. Jy is ‘n koningskind.Hou net jou oë al die tyd op ons Here en gaan lees weer wat Jesus verduidelik in die gelykenis oor die onregverdige regter.

Die gedeelte begin so:

Hou áán totdat die regter luister!

LUK 18:1 Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om aan te toon dat hulle moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

Dan lees ons en ek deel met jou ‘n werklikheid. Ek praat nie van hoorsê nie.

LUK 18:7 Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes nie - hulle wat dag en nag na Hom roep? Sal Hy aanhou om hulle geduld te toets?

LUK 18:8 Ek sê vir julle: Hy sal aan hulle reg laat geskied, en baie gou ook!

Dankie dat ek hierdie getuienis met jou kon deel.

Sakkie Parsons.

“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen." Judas 1:24-25