DIE DOOD – DEEL 1

DIE DOOD – DEEL 1

Is ons lewe vooraf bepaal?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra in kort, of ons Here vooraf bepaal het hoe lank ons gaan lewe of nie.
Ek sê dadelik, ja natuurlik.

PSM 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Ek kyk na hierdie dinge en roep in heerlike ekstase uit:

PSM 139:17  Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!
PSM 139:18  Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.

In die Nuwe Testament word ons heerlik duidelik vertel hoe ons Here reeds voor die skepping, Sy kinders se plan vir hulle lewens, om dit so te stel, opgestel het.

EFE 1:3  Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
EFE 1:4  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.

Iemand vra dadelik:
“Wat dan van onnatuurlike sterftes, soos moorde byvoorbeeld?”

Ons Here het bepaal hoe lank my reis deur hierdie lewe na die ewigheid gaan wees maar met my eie wil, wat ek het omdat ek na God se beeld geskape is, kan ek aan God se plan verander maar ook dit het ons Here reeds in sy groot almag geweet, voordat Hy ons geskep het.
Iemand wat selfmoord pleeg, verander aan God se plan, met die wil wat ons Here hom gegee het.
Iemand wat byvoorbeeld aan ‘n rook verwante siekte doodgaan, soos longkanker, verander aan ons Here se plan.
Iemand wat ongesond eet en lewe en aan een van die siektes daaraan verbonde sterf, maak ‘n verandering aan ons Here se plan.
Iemand wat besope agter sy motor se stuurwiel inklim en in ‘n ongeluk ander mense en of sy eie dood veroorsaak, of iemand gebreklik maak, maak ‘n verandering aan ons Here se plan.
Iemand wat moord pleeg, maak ‘n verandering aan ons Here se plan en so kan ek aan en aan en aan gaan.

Drie feite volgens wat ek die Woord verstaan, staan egter vas.

Eerstens:
Ons Here het reeds voor die skepping in Sy almag jou en my lewe presies volmaak opgestel.
Tweedens:
Enige veranderings aan Sy volmaakte plan, is as gevolg van sonde en keuses van mense, juis as gevolg van sonde, wat jou en my persoonlike sondige keuses natuurlik insluit.

Derdens:
Iemand mag dalk, om dit so te stel, aan God se plan vir Sy kinders peuter – maar die uiteinde vir almal wat aan Jesus enduit vashou, is daar hierdie heerlike wete:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Vir my ‘n baie duidelike voorbeeld in die Woord van hoe dit wat ek jou nou verduidelik het werk, is die volgende:
Ons lees  –

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Sien jy?
Jesus het Golgota toe gestap vir elke mens op hierdie aarde, of dan as jy wil, vir elke mens in hierdie wêreld.  Tog omdat Jesus vooruit in Sy almag geweet het, dat die meeste mense nie van hierdie offer wat Hy gaan bring gebruik gaan maak nie maar aan Sy plan vir hulle lewens gaan verander, sê Jesus self op pad na Golgota aan ons die volgende:

MAT 7:13  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

Van watter pad/weg is dit wat ons Here hier praat?

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

As ek Jesus Christus nie aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker nie, is ek op ‘n pad maar nie ‘Dié Pad’ nie.
Die pad waarop ek dan is, is ‘n pad na die ewige verderf / hel.

MAT 7:13   … breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.

Daar is nog iets wat ek met jou moet deel, as ek oor die dood en alles wat daarmee gepaard gaan praat –
Naamlik, dat daar om dit so te stel, twee soorte dood vir die mens in, of is dit nou uit hierdie lewe is.

Een soort dood vir die mens wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en ‘n ander dood vir die wat nié vir Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie – maar ek doen dit op ‘n volgende geleentheid, anders gaan hierdie skrywe darem baie lank wees.

Vir jou wat hierdie gedagte uit die Woord gelees het en Jesus reeds aangeneem het as Jou Verlosser en Saligmaker en wat te doen kry met satan en mense wat probeer om ons Here se volmaakte plan vir jou lewe op te mors en in sommige gevalle, so lyk dit vir jou, dit reeds reg gekry het, laat ek met hierdie woorde uit die Woord, wat ons Here vir jou en my laat skryf het.

OPG 3:11  Kyk, Ek kom gou!  Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Groete,
Sakkie