DIE DOOD – DEEL 2

DIE DOOD – DEEL 2

Twee soorte dood

Sakkie Parsons

Ek het in my vorige skrywe oor die dood min of meer die volgende geskryf net voordat ek afgesluit het.
Daar is nog iets wat ek met jou moet deel, as ek oor die Dood en alles wat daarmee gepaard gaan praat. naamlik, dat daar, om dit so te stel, twee soorte dood vir die mens in, of is dit nou, uit hierdie lewe is.

Een soort dood vir die mens wat Jesus Christus aangeneem het  as Verlosser en Saligmaker, wat maar net die dood van ons verganklike liggaam is –

En ‘n ander dood vir die wat nié vir Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie, wat ‘n verskriklike sterfproses is, wat vir ewig aanhou.

Ek gaan dan nou poog om na die beste van my vermoë te verduidelik, hoe ek hierdie saak uit die Woord verstaan.
Ek wil dan begin deur te sê, soos ek reeds genoem het, soos ek die Woord in hierdie verband verstaan is daar, om dit so te stel, twee soorte dood en ek gaan hulle eers noem en dan iets oor albei sê.

Die een dood is wanneer my siel, of dan ek, my liggaam verlaat.  Dan vind daar ‘n skeiding tussen my vleeslike liggaam en myself plaas wat on herroeplik vir ewig is.

Dan is daar die geestelike dood.  Die skeiding tussen myself en Ons Here.
Hierdie geestelike dood, vind reeds aan hierdie kant van die graf, as ek dit so verkies  plaas maar kan ook hierdie kant van die graf nog omgekeer word maar is anderkant van die graf verseker onherroeplik.

Nou wil ek eers oor hierdie ‘geestelike dood’ iets sê.
Albei,om dit so te stel, van hierdie soorte dood, het die wêreld ingekom as gevolg van sonde.

ROM 6:23  Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

As ek verkies om sonder Jesus deur hierdie lewe te gaan, en ek tree in daardie toestand uit hierdie lewe uit, vind daar, om dit so te stel, twee soorte dood plaas:

My liggaam is vir ewig van my vleeslik liggaam geskei en my liggaam is dood en ekself is vir ewig van God geskei.

Ek, om dit so te stel, sterf dan vir ewig die verskriklikste dood en tog sterf ek nie.

Dit, ongelukkig soos ek jou in die eerste skrywe gewys het, is die meeste mense se bestemming –

Omdat hulle die dinge wat satan hulle voorhou verkies eerder as om Jesus aan te neem as hulle Verlosser en Saligmaker.

JHN 3:19  En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

Ek glo werklik dat jy nou sekerlik kan insien, dat iemand wat Jesus nié aangeneem het as haar/sy Verlosser en Saligmaker nie, homself / haarself verdoem het tot die verskriklikste ewige sterfte na sy/haar dood in die vlees.

Wat dan nou van ons wat Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker?
Ons van wie die ou mens nou dood is?

ROM 6:3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
ROM 6:4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Wat is ons vooruitsigte?

Wel ek lees in die Woord:

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Asook:

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Nog verder:

1JHN 5:11  En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun.

Ek volstaan met net nog een van die baie voorbeelde wat ek kon gebruik het:

1JHN 5:13  Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.

Nou wil ek hierdie vraag aan jou vra:

Het jy werklik vir Jesus Christus aangeneem as Verlosser en Saligmaker?

Ek vra maar net, omdat daar nou al groot sogenaamde teoloë is wat verkondig dat Jesus maar net ‘n leraar, of ‘n profeet of iets in daardie lyn gewees het.

Baie mense byvoorbeeld, sal bely dat hulle Christene is en tog die Naam van Jesus in een of ander variasie as ‘n vloekwoord, skelwoord, of kragwoord gebruik en niks daarvan dink nie.

As hulle self dit nie doen nie, sal hulle maar dit verdra in die geselskap waarin hulle is, of in die TV program ens waarna hulle kyk.

Wie is hierdie Jesus wie ek, Sakkie. aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker?

Hy is presies wie die Woord sê, dat Hy is.
Hy is God Almagtig wat ‘n menslike liggaam aangeneem het.

JHN 1:1-5 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

KOL 1:15-17 
15 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;
16  want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.
17  En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.

KOL 1:18  En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Ja my vriend / vriendin –
Hierdie Jesus vir wie ek so baie, baie lief is, is die waaragtige God  en net in Hom is daar die Ewige Lewe.

1JHN 5:20  En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.

Groete,
Sakkie