GEE ALTYD JULLE ALLERBESTE VIR DIE HERE SE WERK – DEEL 1

GEE ALTYD JULLE ALLERBESTE VIR DIE HERE SE WERK – Deel 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Een van die e-posse wat ek ontvang het, het onder andere as volg aan my geskryf:

Prediker 9:10: "Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie."
Wat beteken dit vir jou?
Dit maak my deurmekaar: Beteken dit dat ons in die hemel (met respek gesê) soos "zombies" gaan wees of verwys dit dalk na 'n tydperk tussen die dood en die opstanding?”

Ek deel graag my antwoord aan die persoon ook met jou, maar eintlik wil ek in hierdie skrywe met jou iets anders deel en omdat die een eintlik uit die ander vloei, deel ek dit in ‘n kort reeks op met twee gedagtes uit die Woord.

Eers dan oor die persoon se vraag aan my:

Alhoewel daar mense is wat verkondig van ‘n plek van bewaring of slaap of so iets na die dood, glo ek verseker nie in so iets nie en ons gaan beslis ook nie zombies wees na ons uittrede uit hierdie wêreld nie.

Ek deel net eers met jou wat die Woord vir my sê gaan gebeur  as ek uit hierdie lewe uittree. Ek gaan verseker nie êrens in ‘n tussen-iets wees, of in ‘n slaaptoestand, of in ‘n bewaring-toestand wees nie.

Ek deel met jou die volgende uit die Woord om te staaf wat ek sê, dat ek reguit na Jesus gaan en as ek my nié bekeer het nie, reguit hel toe gaan. Eerstens, hier hang Jesus en twee ander mense elk aan ‘n kruis. Al drie gaan binnekort uit hierdie lewe uittree:

LUK 23:40-43
40  “Die ander een het hom egter bestraf en gesê: ‘Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
41 Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.’
42 Hy het verder gesê: ‘Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.’
43 Jesus se antwoord was: ‘Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.’”

Jesus sê nie vir die man aan die kruis langs Hom dat dit eendag gaan gebeur nie, Hy sê,
dat hy vandag nog saam met Hom in die Paradys sal wees. Soos ek altyd vir die mense sê, God sê of doen nie iets om sommer iets te sê of te doen nie. As Jesus sê “Vandag nog,”  dan kan jy maar weet dit is vandag nog.

Nog ‘n voorbeeld:

MAT 17:2  “En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het Sy voorkoms verander.  Sy gesig het begin straal soos die son. Sy klere het skitterwit geword.
MAT 17:3  En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus.”

Moses en Elía het baie, baie jare gelede voor hierdie gebeurtenis uit hierdie lewe uitgetree en hier kom kuier hulle gou vir Jesus voordat Hy kruis toe stap. En hulle was werklike mense, so werklik dat Petrus sommer net daar vir hulle wou blyplek organiseer.
Moses en Elía het ook honderde jare uit mekaar op hierdie aarde gelewe en daar verskyn hulle springlewendig en as ou vriende.

Verder sê my groot held Paulus die volgende van hierdie saak van waar ons gaan wees  wanneer ons hier uittree en waarvan hy ook baie seker was waar hy sou wees as hy hier uittree – en so is ek ook baie seker waar ek gaan wees as ek hier uittree –  by Jesus:

FIL 1:21  “Want vir my is om te lewe, ‘n lewe vir Christus, en om te sterf selfs nog beter!
FIL 1:22 As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk.  Ek weet regtig nie wat om te kies nie!
FIL 1:23 Ek is in ‘n tweestryd.  Aan die een kant verlang ek om te vertrek en persoonlik by Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste.”

Dan is ek ook baie seker dat as ek uit hierdie lewe tree, is daar net een van twee plekke waarheen ek kan gaan en dit is die hemel of die hel.

Jesus self wys dit vir ons pragtig duidelik in Sy vertelling oor die ryk man en Lasarus en soos ek altyd sê, sê ek nou maar weer – Jesus is die enigste persoon wat ooit op hierdie aarde geloop het, wat in diepte kennis van albei hierdie plekke het:

LUK 16:22 “Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra (hemel toe) om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe.
LUK 16:23 Hy het sy oë in die doderyk (die hel) oopgemaak en terwyl hy gefolter word, (sy foltering sê duidelik dat hy in die hel is) het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.”

Toe Lasarus sy oë aan die anderkant van die graf oopmaak was hy waar Abraham ook was en terloops, Abraham was by sy volle positiewe. Toe die ryk man sy oë oopmaak was hy in ‘n, wat jy niks anders as hel kan beskrywe nie. En hy was ook by sy volle positiewe.

Ek verduidelik in meer detail uit die Woord rekende;  waarheen ons gaan nadat ons uit hierdie lewe getree het in twee gedagtes wat ek geskryf het naamlik:
“Wat gebeur met my na die graf” en “Wat gebeur met ons op die oordeel van die groot dag”, wat ek met groot liefde aan jou op aanvraag sal stuur.

Dus –
Hoe sien ek dan PRE 9:10? Lees net gou weer hierdie gedeelte en ek kwoteer die NLV:

PRE 9:10  “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die graf waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig, kennis of wysheid nie.”

Ons is almal op pad na die ewigheid en ons almal se liggame gaan een of ander tyd, om dit so te stel, in die graf beland. Een of ander tyd tussen nou dat jy hierdie skrywe lees en êrens in die toekoms gaan jy jou liggaam verlaat en dan gaan jou liggaam, soos alles wat op hierdie aarde asemhaal, tot niet gaan.

PRE 3:20   “Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.”

Wat die prediker in Pre 9:10 vir ons sê is dit:
Moenie tyd en geleenthede wat ons Here jou in hierdie lewe gee om te doen, wat jy onder Sy leiding behoort te doen, mors of op nuttelose dinge spandeer nie.

PRE 9:10  “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, … “

So jy sien – As jy hierdie gedeelte in konteks met die hele Woord lees en uit wat die Woord oor die hiernamaals vir ons sê, is dit baie duidelik wat hy na ons wil oorbring.
Wat die prediker verseker nie hier doen nie, is om hierdie lewe met die lewe in die hiernamaals te vergelyk.

Wat hy wél doen, is om ons daarop te wys dat jy al jou kanse op hierdie aarde moet gebruik om te doen wat jy moet doen, voordat jou liggaam in die graf beland. Want – moet jy onthou – Dit is nie jy wat in die graf beland nie, dit is jou liggaam.

Jy, soos wat die Woord duidelik vir ons wys en jy reeds gelees het, beland nog voordat jou liggaam in die graf beland, reeds in die hemel of in die hel. Soos ek jou reeds gewys het, sê ek nou maar weer:  Wat die prediker hier doen is om ons daarop te wys dat jy al jou kanse moet gebruik om te doen wat jy op hierdie aarde wil doen, voordat jou liggaam in die graf beland.

PRE 9:10   “… want in die graf waarheen jy (dit is jou liggaam)op pad is, is daar nie werk of insig, kennis of wysheid nie.”

Verseker gaan jy ook nie ‘n zombie of iets soortgelyk wees nie.

Hoe wonderlik!

Luister wat sê die Woord wie jy, kind van God, gaan wees en wat jou status, kind van God, in die hiernamaals gaan wees, terwyl jou liggaam in jou graf van watter aard jou graf ook al gaan wees, vergaan:

ROM 8:16  “Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.
ROM 8:17  En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook Sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in Sy heerlikheid.”

Want ons weet mos!

ROM 8:28  “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.
ROM 8:29 Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos Sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.”

So, my vriendin/vriend:

PRE 9:10  “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die graf waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig, kennis of wysheid nie.”

Onthou egter om dit te doen soos ‘n wáre volgeling van Jesus dit behoort te doen:

KOL 3:23 “Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie.”

Asook:

FIL 4:8  “Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.”

Groete
Sakkie