JOU LAASTE TREE OP AARDE EN JOU EERSTE TREE DAARNA

JOU LAASTE TREE OP AARDE EN JOU EERSTE TREE DAARNA

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“My man se broer is gister oorlede en ons moes tot 'n skok hoor dat hy die Moslem geloof aangeneem het en dieselfde begrawe word. Ons het geweet my swaer se dogter met 'n Moslem getroud was maar nie dat hy ook een was nie.
Ons het ter wille van afsluiting gegaan maar was baie geskok met wat ons gesien het. Het jy enige gevoelens daaroor?”

Hier is dan hoe ek die persoon geantwoord het:
Onthou ook dat as ek nou met jou deel hoe ek na hierdie saak en spesifiek begrafnisse  kyk, ek nie begrafnisse afmaak as nutteloos nie.  Dit is vir die meeste mense wie se geliefdes sterf, sielkundig noodsaaklik om by hulle geliefdes se begrafnis te wees en so afsluiting of dan ten minste die begin van afsluiting oor hulle verlies te kry.

Met dit dan in gedagte, deel ek met jou die volgende:
Wat ek nou sê geld natuurlik vir elke afgestorwe mens by wie se begrafnis haar/sy geliefdes, vriende en belangstellendes bymekaar kom, maak nie saak op welke wyse jy begrawe is nie.

Daar is niks, heeltemal en totaal níks wat ons kan doen aan die, om dit so te stel, lot of waar die aankoms plaasvind van die persoon wat hierdie tydelike met die ewige verwissel het nie.

Lank voor die begrafnis, die oomblik toe daardie persoon uit hierdie lewe uitgetree het, het sy/hy gearriveer, waar sy/hy die ewigheid gaan deurbring en ek deel met jou, vir my die pragtige voorbeeld uit die Woord waar Jesus dit self vir ons verduidelik en soos ek altyd sê –  Jesus is die enigste persoon wat ooit op aarde geloop het, wat presies weet wat gebeur met ‘n mens wat gesterf het.

Jy kan die hele gedeelte gaan lees van af LUK 16:19-31 maar ek deel net ‘n gedeelte om te demonstreer wat ek sê.
Die opskrif is:

’n Ryk man word ontnugter
19 Jesus het gesê: “Daar was ’n ryk man wat pragtig aangetrek het en sorgeloos in weelde geleef het.
20 Voor sy deur het ’n siek bedelaar genaamd Lasarus gelê.
21Terwyl Lasarus daar gelê en begeer het om van die oorskiet van die ryk man se tafel te kon kry, het die honde aan sy oop sere kom lek.
22 Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe.
23 Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.

Om mee te begin:  Jesus sê:

19 Jesus het gesê: “Daar was ’n ryk man …
As Jesus sê “daar was ‘n ryk man” dan praat ons hier van ‘n wáre gebeurtenis, want “daar was ‘n ryk man.”

Dan sien ons verder, dat Lasarus nie begrawe gewees het nie, want ons lees:

22 Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees.

Die rede waarom Lasarus nie begrawe gewees het nie, is omdat mense soos bedelaars, hawelose mense ens wat dood gegaan het, is destyds buite die stad op, wat ons vandag die asgate of stortings terrein noem geneem en daar vir die wildediere en voëls gelos maar die ryk man  is natuurlik begrawe:

22  … Die ryk man het ook gesterf en is begrawe.

Die feit, dat Lasarus nie begrawe is en daarom nie ‘n graf gehad het nie, het egter nie verhoed, dat hy sy oë in die hemel oopgemaak het nie:

22 Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees.

Net so het die ryk man se mooi begrafnis en seker ook mooi graf nie, om dit so te stel, gekeer dat hy sy oë in die hel oopgemaak het nie:
23 Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.

Jy sien –
Hoé jy begrawe word en ja, óf jy inderdaad wel begrawe word het hoegenaamd geen invloed van waar jy die ewigheid gaan deurbring nie.

Die, om dit so te stel,  bepalende faktor van waar jy die ewigheid gaan deurbring, is of jy jou bekeer en Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker.

Het jy al gedink –
Hoekom het die ryk man in die hel beland?
Ek lees nêrens, dat hy ‘n slegte lewe geleef het nie.
Hy was ryk maar dit is tog nie sonde om ryk te wees nie.
So, waarom was hy in die hel?

Jy sien –

‘n Mens gaan nie net hel toe oor wat jy gedoen, of dan verkeerd gedoen het nie.

Ek is van mening dat die meeste mense gaan hel toe oor wat hulle nié gedoen het nie.

Die ryk man het in die hel beland nie omdat hy ‘n sondige lewe gelewe het nie.  Hy het in die hel beland, omdat hy soos ek dit sien, sonder Jesus aan die anderkant van die graf gearriveer het.
Hy het nie Jesus aangeneem as sy Verlosser en Saligmaker nie.
Want:

JOH 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Sonder Jesus gaan niemand die hemel binne kan gaan nie:

Met ander woorde:  As jy hierdie lewe uittree, tree jy die hiernamaals of die hemel in, omdat jy met Christus beklee is:

GAL 3:26  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Arriveer op enige ander wyse aan die anderkant van die graf en jy beland soos die ryk man in die hel.

Volgende keer as jy weer in ‘n begrafnisdiens sit en jy sien die kis daar voor soos wat dit soms gebeur.

Kyk dan na die kis en onthou, dat die oorskot van die persoon wat nou daar lê, se twee bene lê nou langs mekaar, omdat daardie persoon reeds haar/sy laaste tree hier op aarde gegee het en die volgende tree die hiernamaals in gegee het, of die hemel in of die hel in.

Kyk dan af na jou twee bene en onthou, dat daar gaan verseker ‘n dag kom, dat jou twee bene ook soos die persoon in die kis daar voor langs mekaar gaan lê omdat jy jou laaste tree hier op aarde gegee het en jy ook dan reeds klaar jou eerste tree die hiernamaals in gegee het.

Waarheen gaan daardie eerste tree die hiernamaals in wees?

Gaan jy sonder Jesus die hel intree? Of gaan jy beklee met Jesus die hemel intree?

Want, net deur jou te bekeer en Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker gaan jy die hemel kan intree.

Want, onthou jy:

JOH 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
 

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met die volgende kort opsomming van wat ek nou met jou gedeel het:

Uiteindelik maak dit nie saak hoe jy begrawe word en watter geloof se prosedure gevolg word en of jy inderdaad wel begrawe word nie.

Wat saak maak, is of jy beklee met Jesus Christus aan die anderkant van die graf arriveer.

Hoe wonderlik as jy Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker –

Want dan arriveer jy aan die anderkant van die graf en hoe heerlik met Christus beklee en die hemel se poort wyd oop om jou te ontvang!

GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
JOH 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Groete,
Sakkie