AS JY JOU WIL BEROEM, MOET JY JOU IN DIE HERE BEROEM

AS JY JOU WIL BEROEM, MOET JY JOU IN DIE HERE BEROEM.
 

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra of ek nie met my lesers God se siening van om in of oor myself te roem / spog / grootpraat wil deel nie.

Nou wil ek vir jou wys hoe absoluut vernietigend fataal dit is om te roem, spog of grootpraat oor dit wat ons Here in jou lewe doen, sonder om as jy dan wil roem, spog of grootpraat, al die eer van dit waaroor jy nou roem, spog of grootpraat in opregtheid aan die Here te gee. 

Ek sê in opregtheid, want moet ek ook nooit vergeet nie.  Ons Here sien tot in die diepste binneste van my hart.

Want onthou soos die Woord ons ook leer, dat uiteindelik niks wat ek doen of bereik, ek sonder ons Here kan doen of bereik nie.

Omdat ek so lief vir geskiedenis is, begin ek deur met jou ‘n stuk geskiedenis te deel:
Israel was aanhoudend ongehoorsaam aan ons Here en toe het ons Here gedoen wat Hy Israel vir baie jare gesê het dat Hy gaan doen as hulle in hulle ongehoorsaamheid volhard en daarvoor het Hy die koningryk van Assirië gebruik.
Eers het ons Here die Assiriërs van niks tot die magtigste volk in die midde-ooste gemaak.
Daarna het ons Here Assirië as Sy instrument gebruik om Israel tot orde te roep.  Toe het koning Tiglat-Pileser van Assirië die stamme van die Noordelike koninkryk van Israel weggevoer na Assirië toe:

2KON 15:29 Gedurende sy bewind het koning Tiglat-Pileser van Assirië die dorpe Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor verower. Hy het ook die streke van Gilead, Galilea en Naftali verower en die inwoners as gevangenes na Assirië toe weggevoer.

Die res van Israel wat nog in die beloofde land oorgebly het, het ook nie geleer uit wat met die Noordelike koninkryk gebeur het nie en omtrent 12 jaar later stuur ons Here weer vir Assirië onder koning Salmaneser om ook buiten vir die stam van Juda al die ander Israeliete weg te voer uit die beloofde land uit:

2KON 18:9-12 
9 In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia was Hosea seun van Ela in sy sewende regeringsjaar in Israel. In daardie jaar het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die stad Samaria beleër.
10  Na drie jaar, gedurende die sesde jaar van koning Hiskia se bewind en die negende jaar van koning Hosea se regering in Israel, is Samaria verower.
11  Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig.
12  Dit het gebeur omdat hulle (dit is die Israeliete) nie geluister het na die Here hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die Here deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.

Israel het egter balhorig goddeloos bly lewe en toe stuur ons Here weer die Assiriërs onder koning Sanherib om Israel tot orde te roep.

2KON 18:13 In die veertiende jaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië gekom en al die vestingstede van Juda aangeval en verower.

Die Assiriërs het egter by monde van hulle konings al die eer vir hulleself geneem en selfs gedink hulle is sterker as Israel se God.

Onder andere was die volgende deel van koning Sanherib se boodskap aan Israel:

2KON 18:30  Moenie dat hy (dit is koning Hiskía )julle oorreed om op die Here te vertrou deur te sê: ‘Die Here sal ons beslis red! Hy sal nie toelaat dat hierdie stad in die mag van die koning van Assirië oorgegee word nie.

Wat was toe die uiteinde van Assirië hierdie magtigste volk van sy tyd in die midde-ooste?
Wel, koning Sanherib was vermoor deur sy eie seuns en die magtige koningryk van die Assiriërs is tot niet en die Assiriese koninkryk en volk het in die vergetelheid verdwyn.
Want ons Here het toe in die plek van die Assiriërs, ‘n ander volk die sterkste volk in die midde-ooste gemaak, om dit wat Hy gesê het dat Hy aan Israel gaan doen uit te voer en dit was die Babiloniese koninkryk wat ons Here toe die sterkste volk in die midde-ooste gemaak het.

Toe het die Babiloniërs onder koning Nebukadnésar Juda binne geval en die laaste Israeliete, naamlik die stam van Juda uit die beloofde land in ballingskap geneem maar ook koning Nebukadnésar het soos die Assiriese konings in homself geroem, gespog en grootgepraat oor alles wat hy vermag het en jy kan self die gevolge van sy optrede in DAN 4:1 en verder lees. 
Let veral op as jy by DAN 4:28 en verder kom.

Vervolgens deel ek met jou oor wat ons Here ons leer oor hoe Hyself roem / spog / grootpraat sien en hoe ons na sulke optrede moet kyk.

Ons Here leer ons baie duidelik in die Woord, dat daar uiteindelik ‘n verskriklike prys is wat ek sal betaal as ek spog en grootpraat en vergeet wie eintlik in beheer is oor dit waaroor ek spog en grootpraat.

Eers wys ons Here ons uit die Woord, dat dit Hy is wat die Assiriërs as ‘n instrument gaan gebruik.  Dan vertel ons Here ons  dat hy Assirië gaan straf, omdat hulle geroem/gespog het, dat dit hulleself, uit hulle eie krag is wat bereik het, wat hulle bereik het.

JES 10:12  Nadat die Here die koning van Assirië gebruik het om sy doel in Jerusalem te bereik, sal Hy teen die koning van Assirië draai en hom straf, want hy is trots en arrogant.
JES 10:13  Hy spog: “Deur my eie krag en slimmigheid het ek hierdie oorloë gewen. Deur my eie krag het ek baie lande gevange geneem, hulle konings doodgemaak en hulle skatte weggedra.
JES 10:14  Omdat ek groot is, het ek hulle rykdomme geplunder soos eiers in ’n nes geplunder word. Ek het koninkryke bymekaargemaak soos ’n boer eiers bymekaarmaak. Niemand kan ’n vlerk teen my oplig of sy mond oopmaak om te probeer protesteer nie!”

Nou vra ons Here na die grootpraat en spog van die Assiriërs wat toe uiteindelik êrens in die vergetelheid van die geskiedenis verdwyn het:

JES 10:15  Kan die byl grootpraat dat hy sterker is as die een wat hom gebruik? Of is ’n saag groter as die een wat saag? Kan ’n sweep slaan sonder dat ’n hand dit beweeg? Kan ’n kierie op sy eie loop?

Hoe behoort jou en my gesindheid as kinders van ons Here te wees?

Ons Here leer ons, Sy kinders:
MAT 11:29  Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.

Hoe wonderlik!  As ek in nederigheid al die tyd, al die eer aan ons Here gee van dit wat met my gebeur, sal my gemoed ook altyd op so ‘n wonderlike plek wees.

Onthou jy wat jy nou net gelees het?

Onthou ook as jy dit nou weer lees – Die persoon wat hier praat en sê: “Ek is sag en nederig van hart.”

Hierdie persoon is God wat mens geword het:
MAT 11:29  Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.

Ek sluit dan af met die volgende gedeeltes uit die Woord waarna elke ware Christen behoort te strewe in haar/sy lewe.

JER 9:23 So sê die HERE:  “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie;

JER 9:24 maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen;  want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.”

As ek volgens hiérdie riglyne lewe, sal ek in elk geval nie oor myself wil roem,spog of grootpraat nie maar ons Here sal, om dit so te stel, deur my lewe ‘n heerlike geur vir Hom by ander mense wees:

2KOR 10:17  Die Skrif sê mos: “As jy jou wil beroem, moet jy jou op die Here beroem.”

2KOR 10:18  Die eintlike toets lê nie daarin of ’n mens jouself aanbeveel nie, maar of die Here jou aanbeveel.

Groete
Sakkie