AS ONS IETS VRA VOLGENS SY WIL

AS ONS IETS VRA VOLGENS SY WIL                             

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand het vir my iets gestuur wat my weer laat dink het, aan hierdie, wat vir baie mense ‘n probleem is.
Ek wil graag met jou deel wat by my opgekom het.
Onthou ook, dat dit my sienswyse is maar ek wil graag glo dat dit die sienswyse van die meeste Christene is.
Die gedeelte uit die Woord is die volgende:

1JOH 5:14  Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.
1JOH 5:15 As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan.

Daar is mense wat beweer, dat as jy ‘n kind van God is, jy God in die Naam van Jesus enigiets kan vra en jy sal dit ontvang as jy glo, want jy is mos God se kind en jou Vader sal dit vir jou gee of doen.

Om mee te begin, sal ek as kind van God nie vir my Vader enige iets vra wat buite Sy wil is nie.

Ek sal byvoorbeeld nie as iemand voor my inswaai in die verkeer, vir my Vader vra dat daardie persoon moet verongeluk nie.  Ek sal nie eens vra dat hy ‘n pap wiel moet kry nie.

Tog lyk dit vir baie mense of God hulle nie hoor nie en as Hy hulle hoor, Hy hulle nie wil verhoor nie.

Ek wil dit so verduidelik:

As my kind huilend by die huis instorm met ‘n stukkende lip en my vra om hom my rewolwer te leen, want hy wil vir Piet gaan skiet omdat hy nie sterk genoeg is om Piet te slaan nie en Piet boelie hom altyd.
Ek sal iets aan die saak doen maar ek sal nie my rewolwer vir my seun gee nie al is ek ook baie lief vir hom.
Ek sal iets aan die saak doen maar nie dadelik nie, ek sal wag totdat Piet se pa by die huis is.
Ek sal my seun se lip dokter en in die proses sal die ontsmettingsmiddel sy lip dalk seerder maak as Piet se hou maar ek sal weet dat dit wat ek nou doen, op hierdie oomblik die beste vir my seun is.

Net so reageer my Vader in die Hemel altyd as ek met ‘n probleem of versoek na Hom gaan.

Soos met die voorbeeld van my kind –
Hy reageer nie altyd soos ék wil hê Hy moet reageer nie.

Soos met die voorbeeld van my kind –
Hy reageer nie altyd wánneer ek wil hê Hy moet reageer nie.

Soos met die voorbeeld van my kind –
is Sy onmiddellike reaksie ook nie altyd vir my lekker nie en

soos met die voorbeeld van my kind –
is Sy wonderlike Goddelike reaksie áltyd maar áltyd en wás dit nog altyd en weet ek sál dit altyd in die toekoms vir my die heel beste ding wees wat ooit met my in daardie situasie, op daardie spesifieke tydstip  kon en sal gebeur – Al mag ek nie op daardie oomblik of selfs ooit die logika daar agter sien nie.

In die tussentyd kyk ek in my lewe baiekeer om my rond en soos so baie in die verlede kyk ek in ‘n dowwe spieël en ek sien soms ‘n raaisel waarvan ek nie kop of stert kan uitmaak nie maar met die sekere wete:

1KOR 13:12 “Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in 'n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele,maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.”

Want, prys die Naam van ons Here!

Ons Here wat die heelal uit niks tot stand gebring het nie – is in beheer.

Hoe het JESUS gebid toe Hy die verskriklikste lydingsbeker moes drink?

LUK 22:42 “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg.  Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geld!”

Ek sluit af, waar ek begin het: (uit die 1953 Vertaling)

1JHN 5:14  En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil.

1JHN 5:15  En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.

Groete,
Sakkie