Daar staan Geskrywe

Getuienis

Terwyl ek Jeugleier was in ons gemeente moes ek op ‘n spesifieke geleentheid ‘n boodskap aan die jeug van die gemeente bring. So het dit dan gebeur dat ek op my bed gesit het en op my kitaar begin tokkel het toe die wonderlike gedagte begin vorm kry.

Wat het Jesus gedoen, elke keer as satan Hom aangeval het?

HY HET DIE BYBEL GEKWOTEER

LUK 4:3 Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word.
4 Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.
5 Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd.
6 En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.
7 As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.
8 En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
9 Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer.
10 Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar,
11 en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.
12 En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.

Jesus leer ons baie duidelik dat ons Hom moet volg. Met ander woorde ons moet ook Sy voorbeeld volg.

LUK 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.

JOH 12:26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.

Jesus het die Woord gebruik om satan te beveg, dus moet dit mos beteken dat dit die beste manier is om die satan te beveg. Dit is dan geen wonder dat Paulus praat van die Woord as ons swaard nie:

EFE 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God.

Jy kan egter net die Woord as ‘n “swaard” teen satan gebruik as jy die Woord ken. Die slotsom is dus:

Hoe beter jy die Bybel ken hoe beter kan jy teen satan staande bly. Al die bogenoemde gedagtes het in my kop gemaal , toe die Here in Sy wonderlike liefde my die lied gegee het.

Hier is ook die teksverse wat op elke versie in die lied van toepassing is:

Vers 1 se aanhaling uit die Bybel:
1PET 3:9  Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.

Vers 2 se aanhaling uit die Bybel:
MRK 10 19 Jy ken die gebooie Jy mag nie egbreek nie jy mag nie doodslaan nie jy mag nie steel nie jy mag geen valse getuienis gee nie jy mag niemand te kort doen nie eer jou vader en jou moeder

Vers 3 se aanhaling uit die Bybel:
EFE 6:1  Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.

Vers 4 se aanhaling uit die Bybel:
LUK 4:8  En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Daar staan Geskrywe

Vers 1
Jy staan by die skool en toe sien jy hom kom,
daai maatjie staan nader en stamp vir jou om.
Toe hoor jy ou satan kniel hier langsaan jou,
Sê: “foeter hom boetie hy soek mos vir jou.”

Maar as jy weet, sal jy kan sê:

Koor
Ag bly stil ou satan gaan speel in die veld,
want daar staan geskrywe, van nie met kwaad vergeld.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.

Vers 2
Jy sien op die tafel die tien rand noot lê,
en jy hoor ou satan hier langs aan jou sê:
“Jy kan dit maar neem man, wees nie ‘n pampoen,
as jy nie, sal iemand anders dit tog doen.”

Maar as jy weet, sal jy kan sê:

Koor
Ag, bly stil ou satan, jy praat glad te veel,
want daar staan geskrywe, van jy mag nie steel.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.

Vers 3
Jou ouers sê, jy moet nou so òf so maak.
Ou satan sê: “ Hulle wil jou net kwaad maak.
Want ouers jy weet, kan net skreeu, kan net raas.
Man doen wat jy wil, jy is jou eie baas.”

Maar as jy weet, sal jy kan sê:

Koor
Ag, bly stil ou satan, jy klink glad al hees,
want daar staan geskrywe, van gehoorsaam te wees.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.

Vers 4
Maar sonder die kennis, sal jy nie kan staan.
Ou satan sal vir jou, so hou vir hou slaan.
So sorg dat jy elke dag jou Bybel lees.
En as satan kom, sal jy reg vir hom wees.

Want jy sal weet, jy sal kan sê:

Koor
Ag bly stil ou satan en kry nou jou ry,
want daar staan geskrywe, gaan weg agter my.
Ja, bly stil ou satan en hoor wat ek sê,
ek wil dit in vrywe,-
Daar staan geskrywe.
Ek wil dit in vrywe, daar staan geskrywe.