Dit is my God

Getuienis

Die liedjie het so ontstaan:

Vers 1
Ek het buitekant my huis gesit en dit het net klaar gereën. Ek dink toe so by  myself:  Ons Here sien hoe vuil en vol stof die blomme, gras en bome is en Hy stuur die reën om alles mooi skoon te was. Toe neem God die wolke weg en Hy stuur die son om alles af te droog.

Kan jy glo! Dan is daar nog mense wat vra:  “Waar is God?”.
Ek het ‘n koejawelboom gehad en onder die boom het daar baie koejawels gelê wat besig was om vrot te word.  Terwyl ek so aan die koejawels staan en dink besef ek hoe wonderlik my God werklik is.  Onder daardie boom was daar dalk ‘n wurmpie wat kos gesoek het en toe laat God die wind waai en vir die wurmpie ‘n paar koejawels afpluk. As God ‘n wurmpie onder ‘n koejawelboom kan raaksien, hoeveel te meer sien Hy jou nie raak nie.  Onthou jy is Sy hoogste skepping.

Terwyl ek nog daaraan dink, hoor ek hoe daar ‘n paar voëltjies oor my kop verby vlieg. Ek dink toe as iemand my nou sou vra: “Waar is jou God dan?” sal ek vir die persoon kan sê:  “Is jy dan blind, kyk hoe dra Hy die voëltjies oor ons koppe verby.  Dit is my God, daar is my God.”

Vers2
Ek het destyds ‘n mier plaag gehad en kon nog net genoeg gesien het om die miere te sien as hulle so ywerig werk.  Niemand vertel hulle wat om te doen nie. Tog werk hulle asof hulle ‘n baie goeie leier het.  Toe tref dit my, maar hulle het ‘n goeie Leier en hulle het die beste, want dit is my God.

Hoe is dit dat al die riviere by die see uitkom, so al asof die riviere presies weet waar die see is?  Die mense het allerhande wetenskaplike antwoorde maar op die ou einde is dit my God.

As ek ‘n perskepit in my hand neem voel dit vir my asof die pit harder is as selfs die hout van die stam van die perskeboom.  Nou kom my God en Hy sit die hardste deel van die perskeboom in die sagste deel van die perskeboom  en jy kan nie eens ‘n merkie sien waar Hy die pit ingesit het nie.

Dit is my God.

Vers3
Ek het gesit en dink aan al die mooi blomme.  Daar is miljoene soorte met al hul verskillende skakerings en die mens wat partykeer so ‘n hoë dunk van homself het, kan nie eens die eenvoudigste een van daardie blomme maak nie. Dit is net my God wat dit kan doen.

Kyk na die verskillende voëltjies en hoe hulle hul nessies bou.  Die een voëltjie leer nie die ander een hoe om ‘n nes te bou nie.  Tog weet elke soort voëltjie presies hoe om sy nessie te bou wanneer hy ‘n nessie moet bou.  Hoe kry hy dit reg?  Dit is my God! Hoe kom die kuikentjie in die eier?  My God steek Sy hand in daardie eierdop en Hy druk hier en Hy vorm daar en na ‘n ruk breek die eierdop oop en daar kom ‘n voëltjie te voorskyn.

So werk my wonderlike God.

Vers4
As vissies uitbroei of gebore word, begin veral die wat gebore word, feitlik onmiddellik swem.  Ons word gebore en na ‘n ruk kan ons regop sit.  Nog later kan ons kruip en deurentyd word ons deur ons ouers aangemoedig totdat ons later teen die meubels kan opstaan en dan uiteindelik kan ons loop en dit terwyl ons die mees ontwikkelde brein op die aarde het.

Nou hoe kry die visse dit dan reg om te swem net nadat hulle gebore is en ons nie? Want God het ons ouers gegee om ons te help en omdat die vissie se mamma en pappa dit nie self kan doen nie, gaan God sommer self in die water in en gaan leer hulle.

Niks van God se skepping, nie eens die kleinste vissie in die water is vir Hom te veel moeite nie. Vir jou en my en die hele mensdom hang Jesus aan ‘n kruis. Dieselfde geld vir die mooi sang van die voëltjies en die grasieuse huppel van die bokkies.

My God is so groot jy sal Hom tussen die sterre kry en tog woon my God ook hier binne in my. As ‘n mens dit alles insien kan jy nie anders nie as om uit te roep, “Wat ‘n groot en wonderlike God is dit nie wat ons dien nie!”

Dit is my God

Vers 1
Eers het die reën die veld gewas,
Toe droog die son die gras.
En jy soek God,
Jy vra waar is God.
By ‘n vrugteboom soek ‘n wurmpie kos,
Die wind waai vir hom ‘n koejawel los.
En jy soek God,
Jy vra waar is God.
Kyk op in die lug en jy sal Hom kry,
Kyk net hoe dra Hy die voëls verby.
Dit is my God,
Dit is my God.

Vers 2
Kyk hoe die miertjies die grassies dra,
Sal hulle dit doen as jy hulle vra.
Dit is my God,
Dit is my God.
Wie lei die riviere tot by die see,
En wie laat die wind die veld uitvee.
Dit is my God,
Dit is my God.
Sny ‘n perske en kyk na die pit,
Vertel vir my wie het dit daar gesit?
Dit is my God,
Dit is my God.

Vers 3
Kyk na die blommetjie wat daar bloei,
Kan jy iets maak wat so sal groei.
Dit is my God,
Dit is my God.
Sien jy die nessie hy lyk nie sleg,
Wie leer die Voëltjie om so te vleg.
Dit is my God,
Dit is my God.
Kyk na die eiertjie so spierwit,
Wie het die kuikentjie daarin gesit.
Dit is my God,
Dit is my God.

Vers 4
Ek daag jou uit so verhef jou stem,
As jy van iemand weet wat die vissies leer swem.
Dit is my God,
Dit is my God.
Wie leer die voëltjie om te sing,
Die bokkie in die veld om te huppel en te spring.
Dit is my God,
Dit is my God.
Jy sal Hom tussen die sterre kry,
Maar my God woon ook hier in my.
Dit is my God,
Dit is my God.