Geen plek in my herberg

Getuienis

Hierdie lied het sy ontstaan uit die volgende gedagte wat by my op gekom het gehad. Ek het gesit en dink aan daardie nag toe Josef en Maria in Bethlehem aangekom het en dit het my weer opnuut getref, die skokkende feit dat nie een van die herbergiere ‘n plan vir hulle wou maak nie. Hier voor hulle staan ‘n verwagtende vrou, wat op haar laaste is.  Want onthou sy sou nog daardie selfde nag in kraam gaan. Ek kan my nie vir een oomblik indink dat hulle nie haar toestand kon sien nie en hulle was soos ek gemiddelde mans.

Ek kan onthou toe ek nog kon gesien het, die deernis wat ek so maklik kon voel as ek ‘n verwagtende vrou gesien het en hier was ‘n vrou, op haar laaste met ‘n lang reis, of te voet, of op ‘n donkie se rug.  Ek kan nou nog nie besluit watter een van die twee sou vir ‘n vrou in Maria se toestand die moeilikste gewees het nie.

Daar staan Maria en haar man voor die eerste herbergier en ek dink, omdat hy soos ek ‘n man gewees het, het hy seker gedink, “Die arme vrou.  Ek sou haar so graag wou help maar my herberg is vol. Ek kan nou wel vir een van my gaste wakker maak en vir hom vra om ander blyplek te gaan soek maar dan moet ek sy geld vir hom terug gee en dit is baie duidelik, dat hierdie mense nie vir my geldelike verlies sal kan opmaak nie. So, ongelukkig moet ek nou maar vir hulle sê, dat ek hulle nie kan help nie.”

Jy sien. Geld en alles wat daarmee gepaard gaan weeg swaarder as om hierdie twee mense te help en die wonderlikste ding wat ooit met iemand in die ganse skepping kon gebeur het, die feit dat die Enige gebore Seun van God, Sy intrede as mens op hierdie aarde, in sy huis kon geneem het, gaan onherroeplik by hom verby.

Toe by die volgende herberg, staan hulle weer voor ‘n herbergier en weer sien en ervaar hy in sy hart wat die gemiddelde man soos ek ook maar sou ervaar het en hy dink by homself, “Foei tog die arme vrou.  Ek sou hulle so graag wil help en ek gee ook nie eens om vir die geld nie maar as ek nou iemand wakker maak en sy geld vir hom terug gee en vir hom sê, dat ek die kamer vir iemand anders wil gee, gaan hy vir al sy vriende vertel dat ek sommer mense in die nag uit hul kamers uit jaag om iemand anders te help en so gaan ek ‘n baie slegte naam kry. So, ek is jammer ek kan nie daardie kans vat nie” en die wonderlikste ding wat ooit met iemand in die ganse skepping kon gebeur het, die feit dat die Enige gebore Seun van God, Sy intrede as mens op hierdie aarde, in sy huis kon geneem het, gaan onherroeplik by hom verby.

Nou ja, ons weet wat toe gebeur het.

Hulle kry toe darem êrens ‘n stal. Onthou nou die Seun van die Lewende God maak Sy intrede op hierdie aarde, nie in ‘n gesteriliseerde kraamsaal nie maar in ‘n kamer waar ‘n bees een teen tien lê en herkou en ‘n donkie eenkant staan en urineer.  ‘n Kamer waar daar miskoeke op die grond lê en waar vlieë in hul honderde teen die mure sit.

Reg van meet af het die mens Jesus weggewys en dit het nog nooit op gehou nie maar dank God, Jesus het ook nooit opgehou nie. Hy het uit daardie stal tot op Golgota gegaan en aan die kruis gaan hang en sterf, om jou en my te red.

Weet jy ten spyte van wat ek jou nou vertel het, gebeur  dieselfde soort van ding nog daagliks met der duisende mense. Jesus kom en pleit by mense om tog maar hul harte vir Hom oop te maak maar omdat hulle harte so vol ander dinge is, is daar net eenvoudig nie plek vir Hom nie en hulle is nie bereid om daardie verkeerde ding uit hul lewens te verwyder, om plek vir Hom te maak nie en hulle laat die wonderlikste ding wat ooit met ‘n mens kan gebeur die feit dat hulle kinders van God kan word en nie net kind nie maar mede-erfgenaam saam met Jesus.  Ja, saam met die Enige gebore Seun van God.

ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Hierdie selfde Jesus, staan weer vandag by derduisende mense en Hy klop en der duisende mense gaan Hom weer vandag weg wys maar jy hoef nie een van die te wees, wat so ‘n fatale fout maak nie.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Geen plek in my herberg

Vers 1
‘N Man  en ‘n vrou kom na ‘n lang reis In ‘n klein dorpie aan met die naam Bethlehem.
En hulle is moeg soek plek om te bly Maar daar was geen plek in die dorp Bethlehem.

Koor
Daar’s geen plek in my Herberg, my herberg is vol,
Daar’s so baie hier om my dat die blyplek maar lol.
Ja, dit moet hul hoor waar hul ook probeer,
Daar’s geen plek in my Herberg probeer ander keer.

Vers 2
Maar iemand sien tog hoe moeg dat hul is en hy bied sy stal waar hulle kon rus.
Hul kind word gebore in daardie klein stal En hulle noem toe die kindjie Jesus.

Vers 3
Van daardie dag af moet Jesus dit hoor, As Hy soms probeer by jou en by my.
As Hy klop aan die deur om binne te kom, Jammer O Heer hier’s nie plek om te bly.

Koor
Hier’s geen plek in my herberg, my herberg is vol.
Daar’s so baie hier om my, dat die bly plek maar lol.
Ja dit moet Hy hoor as Hy by ons probeer.
Hier’s nie plek in my Herberg, probeer ander keer.