Here dit kan ek sien

Getuienis

Ek was eendag besig om te bid in ons slaapkamer. Ek was alleen by die huis, want in daardie stadium het my vrou nog gewerk. Een van die lekker maniere vir my om te bid, is om rond te loop in die vertrek terwyl ek met ons Here praat.

Daardie dag was ek besig om op daardie manier te bid. Ek moet hier net noem dat ons destyds in ‘n mynhuis gewoon het en ons het plankvloere in sommige van die kamers, soos byvoorbeeld, in die hoof slaapkamer gehad.

Partykeer as ek lekker met ons Here gesels vergeet ek my omgewing en omdat ek nie kan sien nie, weet ek dan nie presies waar ek is nie en op die spesifieke dag was dit weer so.

Op een stadium raak ek toe so weggevoer in my dankbaarheid teenoor ons Here vir als wat Hy vir my doen, dat ek in die lig opspring maar ook effens vorentoe en uitroep “Dankie, dankie!” en toe spring ek teen die spieëlkas vas. Ek dink toe, dat ek nou alles op die spieëlkas om gespring het en toe ek voel, sien ek dat dit maar net ‘n bietjie “gerattle” het vanweë die plankvloere.

Ek voel toe ook egter hoe netjies alles gerangskik is en ek dink toe net so sorgsaam en netjies is my vrou se optrede teenoor my. Ek praat toe verder met ons Here en in die proses loop ek by my vrou se hangkas verby en ek ruik haar geur en toe is ek nog meer dankbaar vir haar in my lewe. Toe onthou ek ook hoe sy altyd in die aande by my in die kantoor kom sit het as ek nagdiens moet werk, alhoewel sy die volgende dag moet werk. Ek onthou toe ook dat as ek op ‘n Maandagaand vir haar sê dat ek nou vir die naweek wat voorlê se dienste gaan bid, het sy altyd als net so gelos en saam met my gekom bid. Ek onthou toe ook, as ek middagdiens gewerk het en ek kom laat by die huis en ek wil saggies gaan lê om haar nie te steur nie, hoe sy in haar slaap omdraai na my toe en eers vir my nag sê voor sy verder slaap.

Nadat ek klaar gebid het, het ek my kitaar geneem en het ons Here vir my hierdie lied gegee.

Here dit kan ek sien

Koor
Ek het met my God gepraat,
Gevra: Heer gee vir my ook ‘n maat.
En my God hou Sy hand uit na my.
Kyk net wat het ek by Hom gekry.

O, Here ek kan dit sien.
Al word ek ook honderd en tien.
Ja, Here dit kan ek sien.
Ek sal haar nooit kan verdien.

Vers 1
Ek voel oor die spieëlkas die netheid van jou.
En ek dink, soos jou netheid, so is jou trou.
Ek staan by jou hangkas, jou geur kom na my.
Wat het ek gedoen, om jou by God te kry?

Koor
O, Here dit kan ek sien.
Al word ek ook honderd en tien.
Ja, Here dit kan ek sien.
Ek sal haar nooit kan verdien.

Ek het met my God gepraat.
Gevra; Heer gee vir my ook ‘n maat.
En my God hou Sy hand uit na my.
Kyk net wat het ek by Hom gekry.

O, Here dit kan ek sien.
Al word ek ook honderd en tien.
Ja, Here dit kan ek sien.
Ek sal haar nooit kan verdien.

Vers 2
Sit ek saans by die werk, kom jy daar by my sit.
Kniel ek langs my bed, kniel jy saam om te bid.
Kom ek laat by die huis en wil ek saggies gaan lê.
Draai jy in jou diep slaap om, om eers nag te sê.

Koor
O, Here dit kan ek sien.
Al word ek ook honderd en tien.
Ja, Here dit kan ek sien.
Ek sal haar nooit kan verdien.
Ek sal haar nooit kan verdien.