My pa se broer my oom

Getuienis

In my kinderdae was daar nie baie mense na wie ek kon opkyk nie maar my Pa se broer, my oom, was een so ‘n persoon.
Ek kan nie alles onthou wat destyds gebeur het nie maar ek vertel dit vir jou, soos wat ek dit belewe en verstaan het.
Hy was besig om sy merk in die lewe te maak en in die proses het hy hierdie baie mooi meisie ontmoet en hulle is toe getroud.
Eendag kom hy by die huis en kort daarna kom die polisie ook daaraan en vertel hom dat sy vrou in ‘n ongeluk was en dat sy oorlede is.
Soos ek die storie verstaan het hy toe so ‘n groot skok gekry dat hy alles net so gelos het en ‘n “outie” geword het.
Daarna het ek so van tyd tot tyd van hom gehoor maar voordat ek daar kon kom waar hy was, was hy al weer weg.
Die laaste keer dat ek van hom gehoor het, was toe hy vir my ‘n brief uit die sentrale gevangenis in Pretoria geskryf het, dat ek ‘n plan moes maak om hom daar uit te kry
Destyds het my Pa in Standerton gewoon en omdat ek en my Pa baie oor my oom Johan gepraat het, het ek hom geskakel en gevra of hy nie iets kan doen nie.
My pa is toe dadelik deur Pretoria toe maar die brief het so lank geneem om by my uit te kom, dat toe my Pa daar kom was my oom reeds vrygelaat.
Ek moet net noem dat die brief per hand by my uitgekom het.
Toe het ons vir ‘n baie lang tyd nie meer van my oom gehoor nie, totdat iemand my eendag skakel en vir my sê dat daar iemand in ‘n lykshuis in Hillbrow lê en dat ek hom moet kom uitken want hulle vermoed dit is familie van my.
Ek het toe my Pa geskakel en hy het toe gaan kyk en dit was toe my oom Johan.
Dit was in die middel van die winter en hy het op ‘n bankie in ‘n bushuisie gaan sit en aan die slaap geraak en die volgende dag is sy verkluimde liggaam daar gekry.
Hierdie hele gebeurtenis het ‘n geweldige uitwerking op my gehad en hierdie lied was een van die uitvloeisels daarvan.
Net ter verduideliking.

As ek reg onthou, ek weet nie of dit vandag nog so is nie maar destyds was brandspiritus vlam genoem en as jy dit gedrink het en daarvan dronk geword het, is jy, of ry jy op die Bloutrein.

My pa se broer my oom

Vers 1
My Pa se broer my Oom,
hy’s ‘n omgevalle ou boom.
Want hy kom by die huis en wat moes hy kry,
sy vrou se motor se wiel het gegly.
En hy staan verslae, terwyl hy moes hoor,
jammer ou vriend, jy het haar verloor.

Koor
En sy lewe lê aan skerwe,en hy gaan op die “outers.”
Klim op die blou trein,
met sy hart vol rou pyn.
En hy sit in die parkie, sy stompie en rook.
En teug aan sy vlam en sy lewer die kook
Wie help hom?
Die meeste mense kyk af, en hul spuug hom.
Want hy’s ’n “outie” op die “outers.”

Vers 2
Hy’s ‘n Pappie, hy’s ‘n broer, dalk ‘n Oom.
Maar hy’s ‘n ongevalle ou boom.
So volgende keer as jy hom sien in die straat.
Kyk nie ander pad nie as hy dalk wil praat.
En weet dis ’n mens wat jy voor jou sien.
Vra dan: “ O God, hoe kan ek U hier dien?”

Koor
Want sy lewe lê aan skerwe en hy gaan op die “outers.”
Klim op die Bloutrein.
met sy hart vol rou pyn.
En hy sit in die parkie, sy stompie en rook.
En hy teug aan sy “vlam” sy lewer die kook.
Wie help hom?
Die meeste mense kyk af en hul spuug hom.
Hy’s net ‘n “ outie” op die “outers.”

Vers 3
Hy’s ‘n Pappie, hy’s ‘n broer, dalk ‘n Oom.
Maar hy’s ‘n omgevalle ou boom.
Want satan het gekom en hy’t hom neer gevel.
En hy ken nie jou God nie, maar hy proe reeds hel.
En jy kan manmoedig van dag tot dag staan.
Want jy ken die Here, na wie jy kan gaan.

Koor
Maar sy lewe lê aan skerwe en hy gaan op die “outers.”
Klim op die blou trein, met sy hart vol rou pyn.
En hy sit in die parkie, sy stompie en rook.
En hy teug aan sy vlam en sy lewer die kook.
Wie help hom?
Die meeste mense kyk af en hul spuug hom.
Hy’s net ‘n “outie” op die “outers.”
Net ‘n “outie” op die “outers.”