Saulus van Tarsus

Getuienis

Net voordat ek met my getuienis begin, wil ek net iets verduidelik, want miskien stuur jy hierdie e-pos vir iemand wat nie so goed met die feit in die Bybel bekend is nie. Paulus, of dan my groot held Paulus soos wat ek hom graag noem, se naam was Saulus voor sy bekering en hy het ook bekend gestaan as Saulus van Tarsus en ook as Saul.

Hierdie lied, is net een van die liedere wat ontstaan het, net voor en gedurende die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. Ek kan nog goed onthou van die vrees in sommige van my mede-gelowiges se harte en dit kon ek nog in ‘n mate verstaan het. Wat toe vir my heeltemal onverstaanbaar was en wat soos dit vandag vir my lyk ‘n epidemie onder baie van my mede-gelowiges is, is die haat en veragting wat baie van ons in ons harte teenoor ander rasse koester.  Terwyl Jesus my beveel, dat ek my medemens moet liefhê.

Mat 22:37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Mat 22:38  Dit is die eerste en groot gebod.
Mat 22:39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Jy sien, ek word nie ‘n keuse gegee nie, tenminste nie as ek Jesus wil volg nie.
Ek word ‘n bevel gegee.

Mat 22:39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Toe wys ons Here my op iets en Hy gebruik my groot held Paulus as voorbeeld. Jy sien Saulus van Tarsus was vol van godsdiens maar dolleeg van God. Kom ek vertel jou gou van my groot held Paulus. Eintlik moet ek sê, kom ek wys jou gou wat hy in die Bybel van homself sê en wat die Bybel self ook van hom sê. Hy sê van homself voordat hy Jesus ontmoet het, die volgende:

Fil 3:5  Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër;
Fil 3:6  wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.

‘n Mens wil amper uitroep: “Wat ‘n wonderlike man!” Kom ons kyk nou gou na die wonderlike Godsdienstige man se lewenswandel.

Han 7:58  En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.
Han 7:59  En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!

Saulus van Tarsus pas die mense se klere op, terwyl hulle ‘n kind van Jesus vermoor. Toe gaan hy bloeddorstig en vol godsdiens en ywer vir God nog verder.

Han 9:1  Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan
Han 9:2  en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.

Toe ontmoet hierdie godsdienstige maar Godlose man vir Jesus.

Han 9:3  En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af;
Han 9:4  en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
Han 9:5  En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg.

Hy ontmoet Jesus en neem Hom aan. Kyk net hoe kyk hierdie man van toe af na sy medemens.

Gal 3:28  Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

1Kor 12:13  Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Volgens my het niemand ooit mooier as Paulus oor die liefde geskryf nie, wat hy so onderstreep het.

1Kor 13:13  En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Saulus van Tarsus

Vers 1
Hy is Saulus van Tarsus en hy ken die Heer,
Hy is Saulus van Tarsus en hy’t alles mooi geleer.
En hy werk met groot ywer en sy hele hart,
Maar Saulus van Tarsus veroorsaak net smart.

Koor
Want Saulus van Tarsus het nog nie gesien,
Met haat in jou hart, kan jy die Here nie dien.
Ja, Saulus van Tarsus sal die les nog leer,
Al het jy al die kennis moet jy jou ook bekeer.
Al loop jy oor van godsdiens, moet jy jou ook bekeer.
En dit is waar my vriend, verseker sê ek vir jou, dit is waar.

Vers 2
Toe gaan Saulus van Tarsus mos op daai lang reis,
Want hy is Saulus van Tarsus en hy sal die satan gaan wys.
Maar die Heer keer hom voor en sê:  “Luister na My.
Saul o Saul waarom vervolg jy My.”

Koor
En Saulus van Tarsus sien hy het gefaal,
Hy was al die tyd toe maar net ‘n luidende simbaal.
Ja, Saulus van Tarsus ontdek ‘n groot ding,
Net met die liefde, kan jy jou naaste vir God win.
Net met die liefde kan jy jou naaste win.
En dit is waar my vriend, werklik ek sê vir jou, dit is waar.

Vers 3
So luister my vriend want ek wil jou iets leer,
Of eintlik wil ek net vir Paulus kwoteer.
Al het jy al die werke en spreek jy selfs in ‘n taal,
Sonder die liefde is jy net klinkende metaal.

Koor
En luister my Vriend:
Metale is koud en metale is hard,
En dit veroorsaak soms pyne en droefheid en smart.
So ek hoop dat my vriend jy ook nou kan insien,
Sonder die liefde, kan jy die Here nie dien.
Sonder die liefde kan jy die Here nie dien.

En dit is waar my vriend, voorwaar ek sê vir jou, dit is waar.