Sober gedagte

Getuienis

Om die lied te verstaan, dink ek dit sal raadsaam wees om eers die volgende gedeelte te lees. 

Lukas 16 vanaf vers 19:

Lasarus en die ryk man

19 “Daar was eenkeer ’n ryk man wat altyd die fynste en duurste klere gedra het. Hy het in weelde gelewe, en elke maaltyd was soos ’n fees. 20 By die ryk man se voordeur het daar ’n arm man gelê. Sy naam was Lasarus. Hy was so vol sere 21 dat die honde daaraan kom lek het. Lasarus het gehoop dat hy van die oorskietkos sou kry wat van die ryk man se tafel afgeval het. 
22 “Die arm man is dood en is deur die engele geneem na die ereplek langs Abraham. Die ryk man is ook dood en is begrawe. 23 In die doderyk het hy verskriklike pyn gely. Toe hy opkyk, sien hy in die verte vir Abraham met Lasarus by hom. 24 ‘Vader Abraham!’ het hy uitgeroep, ‘kry my tog jammer en help my! Stuur asseblief vir Lasarus dat hy net sy vingerpunt in die water steek en my tong daarmee kom natmaak, want ek ly verskriklike pyn in hierdie vlamme!’ 
25 “Maar Abraham antwoord: ‘My kind, jy moet onthou dat jy in jou lewe al die voorregte gehad het en Lasarus die moeilikhede. Hier is hy nou gelukkig en jy ly pyn. 26 Maar dit is nie al nie. Daar is ook so ’n geweldige afgrond tussen ons en julle dat niemand wat hiervandaan na julle toe wil gaan dit sal regkry nie, en van julle af sal ook niemand ooit hiernatoe kan kom nie.’ 
27 “Toe sê die man weer: ‘Vader Abraham, ek smeek u dan, stuur tog vir Lasarus na my pa se huis toe, 28 om my vyf broers wat daar is te gaan waarsku. Anders sal hulle ook hier beland waar ’n mens so verskriklik gepynig word.’ 
29“Maar Abraham sê: ‘Hulle het die Skrif met Moses en die profete se woorde. Laat hulle daarna luister.’ 
30“‘Nee vader Abraham,’ sê die man toe, ‘maar as iemand wat dood was met hulle gaan praat, sal hulle, hulle bekeer.’ 
31“Maar Abraham antwoord: ‘As hulle nie na die Skrif wil luister nie, sal hulle, hulle ook nie laat oortuig nie selfs al sou iemand uit die dood lewendig word.”

Hierdie gedeelte is so ryk aan lessies, maar eendag het ek iemand hoor praat en iets wat die persoon gesê het, het my gedagtes aan die loop gesit. Terwyl my Pa nog geleef het, het ek altyd my gedagtes van my liedjies wat ek van die Here gekry het met hom gedeel en op die besondere dag toe ek my Pa vertel wat in my hart opgekom het, was sy reaksie: “ Now that is a sobering thought.”

Die eerste gedagte wat by my opgekom het is dat ons sal die dood oorleef. Ons is na God se beeld geskape en een van die eienskappe van God is, dat Hy nie kan doodgaan nie. Ek sal die dood ingaan maar ek sal die dood ook uitgaan.

1 Korinthiers 15 vanaf vers 55: 
55 Wat bly daar dan oor van die dood se mag? Niks! Sal die dood nog ’n angel hê? Nee!” 56 Die angel wat mense doodmaak, is die sonde, en dit is die wet wat mense in die mag van die dood gee. 57 Maar laat ons God dank! Jesus Christus het die oorwinning behaal en nou het God vir ons ook saam met Hom aan die wenkant gesit.
58 Daarom moet julle ook aanhou om op God te vertrou, liewe broers, en julle moet vasstaan. Werk vir die Here met julle hele hart, want wat julle vir Hom doen, is die moeite werd.

Die tweede gedagte wat sterk in my hart na vore gekom het is dat daar net een van twee plekke is waarheen ek sal gaan as ek hierdie aardse wêreld verlaat en dit is of die hemel of die hel.  JESUS (die enigste Persoon wat op hierdie aarde geloop het, wat in diepte kennis het van die hemel en die hel) sê dit ook in Sy Woord.

In die een plek (die hemel) leef jy vir ewig heerlik. In die ander plek (die hel) is jy vir ewig in die hel se vuur en sal jy wens om te kan sterf maar jy sal nooit sterf nie.  Dit gaan vir ewig ‘n verskriklike lyding wees.

Dit is Jesus wat hier praat: Markus 9 vers 48:
48 Daar sal die wurms wat aan hulle vreet nooit doodgaan nie en die vuur sal nooit uitgeblus kan word nie.

As ek met mense praat en na bogenoemde vers verwys sê ek altyd, dat as Jesus sê nooit, dan is dit nooit.  Dan word nooit ‘n ewigheid.

Dit is Jesus wat hier praat: Johannes 3 vanaf vers 11:
11Ek praat waarvan Ek weet en wat Ek gesien het, maar julle glo dit nie. 12As julle nie eers glo wanneer Ek julle vertel van hierdie dinge wat op aarde met mense gebeur nie, hoe sal julle dan glo as Ek julle van dinge in die hemel vertel? 13Geen mens was nog ooit in die hemel gewees nie, behalwe Ek, die Redder wat uit die hemel gekom het. 14Net soos Moses destyds die koperslang in die woestyn op ’n paal gehang het, so sal Ek, die Redder, ook op ’n paal gelig word 15sodat elkeen wat op My vertrou die ewige lewe kan hê.
 16“God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie maar hy sal die ewige lewe hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die mense te kom veroordeel nie maar om hulle te kom red.
 18“’n Mens wat op Hom vertrou, word nie veroordeel nie, maar ’n mens wat nie hierdie vertroue het nie is reeds veroordeel omdat dit die enigste Seun van God is in wie hy nie wou glo nie. 19Die oordeel kom hierop neer: die Lig het na die wêreld toe gekom, maar die mense het die donker meer liefgehad as die lig, want wat hulle gedoen het, was sleg. 

Johannes 14 Die dissipels moet op Jesus vertrou:
Jesus sê toe vir sy dissipels: “Moenie verskrik word nie. Vertrou op God en vertrou ook op My. 2In my Vader se huis is daar baie plek, en Ek gaan daar vir julle ’n plek regmaak om te bly. As dit nie so was nie, sou Ek reguit vir julle gesê het. 3As Ek julle plek reggemaak het, kom Ek weer om julle te kom haal sodat julle by My kan wees. 4Julle weet waarnatoe Ek gaan en hoe om daar te kom. ”Jesus is die pad na die Vader toe 5Tomas antwoord: “Maar Meneer, ons weet nie waarnatoe U gaan nie. Hoe kan ons dan die pad ken om ook daar te kom?” 
6Jesus sê: “Ek is die pad na die Vader toe. Ek is die waarheid. Ek is die lewe. Dit is net deur My alleen dat iemand na die Vader toe kan gaan. 7As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het. Maar van nou af ken julle Hom en julle sien Hom.” 
8Filippus sê toe: “Meneer, wys vir ons die Vader, dan sal dit vir ons genoeg wees.”  9Jesus antwoord: “Hoe lank is Ek nou nie al by julle nie, Filippus, en jy sê jy ken My nie? As iemand My gesien het, het hy die Vader ook gesien. Hoe sê jy dan: ‘Wys ons die Vader’ ?

Ons het almal op die aarde een hoofpad wat ons loop. Ons word uit ons moeders gebore en ons gaan in die graf in.

Een ding moet ek verseker weet, die graf is nie die einde van my pad nie.

My pad hou aan nadat ek op hierdie aarde gesterf het. Daar is nou net twee paaie na die dood en ek bepaal self hier op aarde watter een is die paadjie wat ek gaan loop.

Tussen my geboorte en my sterwe op die aarde moet ek self die keuse maak:

  • Ek kies of Jesus, met ander woorde DIE EWIGE LEWE of

  • Ek kies nie vir Jesus nie, met ander woorde DIE EWIGE HEL.

Vers 1
In die ryk man en Lasarus, het Jesus geleer.
Daar is iets in jou lewe wat jy nie kan keer.
Hoe lank jy ook lewe, waar jy ook al swerf.
Jy was eens gebore, jy sal eendag sterf.

Koor
Hier is ‘n sober gedagte wat ek jou wil bring.
Wat sommige mense laat jubel en sing.
En sommige mense laat sidder en beef.
Luister my vriend, jy sal die dood oorleef.
Ja, luister my vriend, jy sal die dood oorleef.

Vers 2
In die ryk man en Lasarus het Jesus vertel.
’n Prentjie geskilder van die hemel en die hel.
Ja, Hy het geleer daar is iets wat vas staan.
Na een van die twee sal jy eendag moet gaan.

Koor
Hier is ‘n sober gedagte wat ek jou wil bring.
Wat sommige mense laat jubel en sing.
En sommige mense laat sidder en beef.
Luister my vriend, jy sal die dood oorleef.
Ja, luister my vriend, jy sal die dood oorleef.

Vers 3
In die ryk man en Lasarus het Jesus gepraat.
Oor spyt wat sal kom maar soos altyd te laat.
So, draai om na Jesus, my vriend wees nie dom.
En jy is gereed as jy anderkant kom.

Koor
Hier is ‘n sober gedagte wat ek jou wil bring.
Wat sommige mense laat jubel en sing.
En sommige mense laat sidder en beef.
Luister my vriend jy sal die dood oorleef.
Ja, luister my vriend, jy sal die dood oorleef.

 

Sober gedagte