My getuienis rondom die Wally Hayward Wedloop

Ek wil jou vertel van ‘n wilde perd wat ek opgesaal het en toe ook gery het maar eers moet jy die volgende uit ons Here se word lees naamlik : 1KOR 9:26, FIL 3:14 en HEB 12:1-3 maar ek skryf dit aaneen omdat dit in my hart vanweë hierdie skrywe in mekaar in gevloei het…

Sien Fotos

Ek wil jou vertel van ‘n wilde perd wat ek opgesaal het en toe ook gery het maar eers moet jy die volgende uit ons Here se word lees naamlik : 1KOR 9:26, FIL 3:14 en HEB 12:1-3 maar ek skryf dit aaneen omdat dit in my hart vanweë hierdie skrywe in mekaar in gevloei het:

Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee.
Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.
Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry.
Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë (stip) vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop.
Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.
Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.
En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het.
Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

Ek wou, sommer vir die lekker daarvan, vir my 70ste verjaarsdag op die 30ste April 2017 iets spesiaal doen om die dag te onthou.

Ek hoor toe dat die Wally Hayward 42.2, 21.1, 10 en 5 kilometer wedlope op die eerste Mei gaan plaasvind en net daar en dan besluit ek dat ek die 10 kilometer wedloop  wil aanpak maar ek het nie ‘n gids om saam met my te hardloop nie.

Ek sit toe eendag by my vrou, wat soos jy weet aan gevorderde dimensie ly, en die eienares van die fasiliteit waar Cornelia is kom verby en begin met my gesels. Ek vertel haar wat ek graag wil doen en sy sê, dat sy dink sy kan my help. Die uiteinde van my gesels met haar was, dat Brendan Behr een van die vennote van BST Proberties my gekontak het en gesê het, dat hy graag my gids sou wou wees en dat BST Properties sommer ook my sou wou borg. Ek het Brendan die oggend van die wedloop by hulle kantore in Centurion ontmoet en dit is hier waar ek met my getuienis wil begin. Ek ontmoet toe vir Brendan en was so bly en aangenaam verras dat ons Here vir my só ‘n wonderlike kind van Hom as gids gegee het.

Nou moet ek ook net hier noem, dat die laaste keer dat ek sê verder as150 meter gehardloop het en dan strek ek dit, was ongeveer 16 jaar gelede toe ek my laaste wedloop gehardloop het en ek het dit baie gou agtergekom.

Die wedloop was taamlik baie op en af en ek moes al by, as ek reg onthou, die eerste bult na die 2 kilometer merk vra dat ons eers ‘n bietjie moet loop.

Dit het my toe ook laat dink – Jou en my wedloop deur hierdie lewe, omdat ons kinders van God is en omdat daar ‘n satan, die god van die bose is, wat sy bes gaan doen om ons te laat tou opgee en langs die nou pad af te draai na die breë pad toe:

MAT 7:13  “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is diepad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.

MAT 7:14 Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!”

Omdat Jesus vooruit geweet het, hoe moeilik satan dit vir jou en my gaan maak, het Hy ons ook vooruit gewaarsku dat ons moet verwag dat dit nie ‘n maklik wedloop deur hierdie lewe gaan wees nie:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Ek onthou uit my eie lewe, toe ek in die laat sewentigs van die vorige eeu die sig wat ek nog gehad het vinnig begin verloor het en die skrikwekkende gedagte my getref het, dat ek binnekort nooit weer my kinders se gesiggies gaan sien nie maar ek het ons Here se Gees in my gehad en ek kon dit wat met my gebeur met Sy hulp hanteer.

Toe ook later, in 1997 toe die dokter vir my sê dat ek melanoom kanker het en as hulle dit nie kan keer nie, ek nog ongeveer 6 maande het om te leef, was dit vir my skrikwekkend maar ek het ons Here se Gees inwonend in my gehad en ek kon dit ook hanteer.

Nou vir ongeveer al 6 jaar leef ek in hierdie skrikwekkende omstandighede van my vrou wat aan dimensie ly en moet ek aanskou hoe sy verder en verder in haar menswees in die donker miswolk van dimensie verdwyn en seker omdat dit nie hierdie keer met myself gebeur nie, is dit wat ek moet aanskou, by verre die mees skrikwekkendste iets wat nog in my lewe met my gebeur het en kom ek soms in hierdie wedloop op ‘n plek waar die bult voor my so steil is, dat ek maar soos Jesus self net kan uitroep:

LUK 22:42  … Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied!

Onthou jy wat gebeur toe?

Sy Vader het nie die beker weggeneem nie maar Hom gehelp om die pad verder te kan stap:

LUK 22:43  En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Jesus het egter nog steeds die pad wat Hy moes stap gestap:

LUK 22:44  En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.

Soms in ons lewe soos daardie dag in die wedloop met my, kom ons by ‘n bult in die wedloop voor ons, wat op daardie oomblik net te steil is vir ons om uit te hardloop, dan val ek gewoonlik in die gees op my knieë en ek sê aste ware – “Here, nou moet ek regtig ‘n bietjie loop, ek kan nie meer nie”, dan versterk ons Here my met gedeeltes uit Sy Woord soos:

1PET 1:6-7

6  Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry.

7  Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word.  Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word, en onthou:  Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud.  As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.

Wanneer ek dit weer onthou, kom daar so ‘n heerlike vrede oor my.  Veral as ek by dit alles onthou, dat daar verder van jou en my wie ‘n liefdesverhouding met Jesus het geskryf staan:

1PET 1:8-9

8 Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie.

9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

Dan kan ons weer, omdat ons weer aste ware ons asem teruggekry het, ons Here se wonderlike vrede ervaar.  Die vrede waarvan Hy praat as Hy sê:

JOH 14:27  “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.

Want jy sien:

Dit maak nie saak hoeveel bulte in hierdie wedloop is nie.  Hierdie wedloop gaan ‘n einde hê en nie een van die bulte wat ek moet uit, gaan so steil wees dat ek dit nie sal kan uit nie. Ek mag dit dalk nie uit hardloop nie.  Ek mag dit selfs nie uit kan draf nie.  Ek sal sommige van die bulte dalk uit strompel – maar ek het met Sy vrede in my hart hierdie wete:

1KOR 10:13  Onthou, die versoekings ( beproewings) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (beproewing) sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

Dan!

Aan die einde van my wedloop hier op aarde, prys die Naam van ons Here, gaan ek my medalje van my Here persoonlik ontvang:

Want wat ons Here vir Sy kinders in Filadelfia geskryf het, geld uiteindelik ook vir jou en my – daarom is dit in Sy Woord vir ons opgeteken:

OPB 3:11  Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

Kom jy en ek bly net voortbeur, sodat ons ook terwyl ons oor die wenstreep die ewigheid in beweeg dit kan uit jubel:

2TIM 4:7-8

7 Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

8 En nou wag die prys vir my: die lourierkrans vir ’n lewe in gehoorsaamheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy terugkeer. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning.

Ek sal baie dankbaar wees as jy jou vriende van my webtuiste en hierdie bediening vertel en my so die geleentheid gee om langs hierdie weg en met jou hulp, die evangelie van Jesus Christus te verkondig.

Groete,
Sakkie