Die dwaasheid van die evangelie van die kruis vir sommige

Skrywer:  Sakkie Parsons

Omdat mense al met my oor hierdie saak gepraat het, het ek gevoel om iets daaroor te skryf.

Ek praat hier oor die op die oog af, onlogiesheid van ons Godsdiens, of soos sommige dit noem, die “plain stupidity” daarvan.

Hoe is dit moontlik dat dit finansieel nie baie goed met iemand kan gaan nie, maar as jy haar/hom vra hoe dit gaan, jy ‘n antwoord kan kry soos: “Goed, want ons Here sorg vir ons.”

Of jy vra vir iemand met ‘n liggaamlike gebrek hoe dit gaan en jy kry ‘n antwoord van: “God is op die troon en die saak loop mooi.”

Of soos wat ons op ‘n plek in die Woord lees:

HAB 3:17  “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie —
HAB 3:18  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.”

So dwaas lyk hierdie soort godsdiens, so “plain stupid,” of soos iemand my al laat verstaan het, “belaglik,” dat dit my groot held Paulus genoop het om by geleentheid te skryf:

1KOR 1:18  “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”

‘n Ander vertaling stel dit so:

1KOR 1:18 Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan.  Maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

Kom ek verduidelik vir jou hoe ek na hierdie “dwaasheid” kyk. Lees net gou eers hier:

JHN 11:1-7 
1 “En daar was ‘n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha.
2  En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en Sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was.
3  Die susters het toe iemand na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek.
4  En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.
5  En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.
6  En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.
7  Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan.”

Hier is nou ‘n paar dinge waarna ons kan kyk, om te verstaan waarom mense wat in die regte verhouding met ons Here is, so ‘n absolute heerlike bevrediging vind in die Evangelie van die kruis; die Evangelie van die kruis wat so ‘n dwaasheid vir die wêreld is.

As jy JHN 11:3-6 en ander gedeeltes oor hierdie familielede lees, sien jy dat Jesus ‘n baie intieme verhouding met hierdie gesin gehad het, soveel so dat die boodskapper net hoef te gesê het, sonder om Lasarus se naam te noem:

JHN 11:3  “Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek.”

Hou ook in gedagte dat Jesus, wat ook God Almagtig is, in elk geval kon verhoed het dat Lasarus, vir wie Jesus lief was, in die eerste plek siek geword het en toe Lasarus wel siek geword het, kon Jesus hom gesond maak sonder om na hom toe te gaan, maar, nie alleen laat Jesus hom siek word nie, nie alleen doen Jesus niks toe hierdie “hy vir wie U lief is” dodelik siek is nie, Hy laat nog ‘n paar dae verloop voordat Hy aanstaltes maak om iets te doen:

JHN 11:6  “En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.”

Soveel so, dat toe Hy uiteindelik by die familie kom met wie Hy daardie intieme
liefdesverhouding het, moes Hy hoor:

JHN 11:39  “Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.”

Toe, wat was die uiteinde van hierdie stukkie geskiedenis?

JHN 11:43  “En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!
JHN 11:44  En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ‘n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.”

Nou, vir so lank as wat die ewigheid gaan duur, ja, vir ewig en altyd, sal daar oor hierdie familie en hy, vir wie Jesus lief was en is, getuig word dat ons Here hulle tot Sy eer en verheerliking kon gebruik:

JHN 11:4  “… maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

Hoe groot die eer! Hoe absoluut wonderlik! God het hulle gebruik tot Sy verheerliking.

Jy sien – dit is waarom die Evangelie van die kruis vir my die krag van God is en waarom ek so ‘n onlogiese, op die oog af, soos iemand dit gestel het, “obsene” ding, kan glo en verkondig:

2KOR 4:8  “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;
2KOR 4:9  vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”

Want ek weet verseker – Al is die omstandighede om my soos dié van ‘n donker stinkende graf. Ja, al ruik my eie omstandighede al vrot.

JES 55:8  “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die HERE.”

Hy sál op die regte tyd vir my ‘n saak uitwerk, soos wat Hy dit ook in Lasarus se geval uitgewerk het, omdat Hy vir my in Sy Woord sê:

ROM 8:28  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is.”

Dit is vir my deel van die groot heerlikheid van die Evangelie van die kruis.

Wanneer ek vir ons Here iets vra, sal Hy doen wát gedoen moet word, wánneer dit gedoen moet word, sóós dit gedoen moet word, ás dit gedoen moet word.

In die tussentyd het ek die eer om ‘n instrument tot verheerliking van my God te
wees.

Daarom jubel ek dit saam met my groot held Paulus in my hart uit wanneer ek daaraan dink, dat ek die genade van ons Here ontvang het, dat Hy iemand na my gestuur het, om ook aan my hierdie wonderlike Evangelie bekend te maak:

ROM 11:33-36 
33 “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!
34  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was Sy raadsman gewees?
35  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”