Hoe weet ek, dat ek ‘n kind van God is?

Iemand het my gevra: “Hoe kan ek verseker weet ek is gered?”

Met ander woorde, die persoon wou weet hoe sy kan weet, dat sy werklik ‘n kind van ons Here is.

Ek is jammer dat hierdie skrywe so ‘n bietjie lank is en ek wou dit eers in twee dele opdeel, maar omdat – wanneer iets eers geskei word – dit dalk nie by almal in die geheel gaan uitkom waar dit moet uitkom nie, het ek daarteen besluit. Ek glo en vertrou dat as jy hierdie skrywe klaar gelees het, jy verseker deur selfondersoek sal weet of jy werklik ‘n bekeerde Christen is en of jy net in naam ‘n Christen is en dat jy ook sal weet dat as jy net in naam ‘n Christen is, jy in werklikheid op hierdie oomblik nog verlore is.

Hier dan is hoe ek dit in my eie lewe ervaar het en nou daarvolgens lewe. Vir my begin en natuurlik eindig alles by Jesus. In Sy heilige Woord staan dit dan ook so geskryf:

OPG 1:7  “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!

OPG 1:8  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

Asook:

JHN 14:5  “Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

So, die heel eerste besef waartoe jy absolute sekerheid in jou hart moet hê, is dat Jesus vir jou presies is wie Sy heilige Woord sê dat Hy is, en dat jy besef dat daar geen, maar absoluut geen ander manier is om gered te word, as om Hom aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker nie,

HAN 4:12  “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”

Hoe doen jy dit?

Jy besef dat jy in die lewe wat jy op die oomblik lewe, soos wat jy dit nou lewe, of dit uit ‘n menslike oogpunt ‘n mooi lewe is en of dit nie ‘n mooi lewe is nie, net een einde het – omdat jy sonder Jesus lewe en dit is die hel.

Met ander woorde: jy besef werklik dat jy op hierdie oomblik sonder Jesus is en dat jy daarom verlore is. Nou maak jy ‘n ommekeer in jou lewe. Anders gestel: jy bekeer jou.

Jy draai jou rug op jou lewe soos wat jy dit gelewe het, en van nou af is Jesus deel van jou lewe en nie net deel nie, maar in alles wat jy besluit kom Jesus nou eerste. Met ander woorde, jy strek jou hande in die gees uit en jy neem die prys wat vir jou op Golgota betaal is aan, en jy maak dit joune en jy poog nou met alles wat jy het om ‘n ware dissipel van Jesus te wees.

1KOR 5:7  “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees —soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.

1KOR 5:8  Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.”

Dan maak jy, om dit so te stel, deur jou in die openbaar te laat doop, hierdie wonderlike daadwerklike besluit van jou wêreldkundig. Ek sê wêreldkundig, want jy maak dit deur jou doop in die openbaar nie net aan die mens bekend nie, maar jy maak dit ook aan die geesteswêreld bekend. Jy kan maar sê, dat jy dit heelal-kundig maak.

Hoekom doop ons in die openbaar vir almal om te sien en kennis daarvan te neem?

Vir my is die antwoord eenvoudig. Al die mense wat Jesus na Hom geroep het in Sy wandel hier op aarde, het Hy in die openbaar na Hom geroep en hulle moes in die openbaar die stap neem om Hom te volg of nie.

Net so deur jou doop verklaar jy in die openbaar aan alle mense, geeste en magte: “In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:

Ek glo dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.

Ek glo dat Hy begrawe is.

Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.

Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het,  aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. Die ou ek is nou dood.  Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God,

‘n dissipel van Jesus.”

Ek het genoem dat jy nie net teenoor die mens nie maar ook teenoor alle geeste en magte hierdie getuienis bring. Dat jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en dat jy nou Sy dissipel is. Jy maak jou bekering eintlik deur jou doop nie net wêreldkundig nie, maar eintlik heelal-kundig.

Luk 15:7  “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.”

As ek by ‘n doopdiens is en ek hoor hoe die persoon onderdompel word en ek hoor weer die water as die persoon uit die water kom, dan is een van die groot gedagtes altyd in my hart, van die weergalmende juigkrete wat daar deur die heelal in die geesteswêreld trek, wanneer die persoon, of dan nuwe skepsel, uit die doopbad klim:

2KOR 5:17  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Ek het ook vir jou genoem dat jy getuig, dat die ou mens wie jy was, nou dood is:

Rom 6:4  “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

As jy nie so gedoop wil word nie omdat jy dan kwansuis te skaam of so iets is, is jy na my mening nog nie waar jy in jou geestelike lewe behoort te wees sodat jy gedoop mag word nie, en moet jy ook kennis neem dat ons Here sê:

Mrk 8:38  “Want elkeen wat hom vir My en My woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van Sy Vader met die heilige engele.”

‘n Ware bekering is wat Jesus se Evangelie aanbetref, om dit so te stel, ‘n skaamtelose bekering:

Rom 1:16  “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, …”

Alles wat ek tot hier met jou gedeel het, kan na my mening opgesom word met die volgende woorde uit die Woord:

HAN 2:37 “ Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

HAN 2:39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”

In wat ek nou gaan sê, sê ek nie dat mense wat klein, of dan as babas gedoop is, op pad hel toe is nie. Jy gaan nie hel toe omdat jy nie gedoop is, of omdat jy verkeerd gedoop is nie. Jy gaan hel toe as jy sonder Jesus by die Hemelpoort aankom. Met ander woorde, as jy Jesus nie aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie en jy tree uit hierdie wêreld uit.

Ek wil net wys op die geweldige groot gevaar, as jy iets verkondig wat jy werklik nie in die Woord vind nie. Ek gebruik maar die babadoop as voorbeeld omdat ek, om dit so te stel, daar deur is en tenminste daarvan deur my eie lewe ‘n goeie kennis en voorbeeld het.

So, nou moet ek ongelukkig aan jou noem, dat daar baie, baie valse bekerings is en een van die groot redes na my mening, is die kinderdoop. Ek het al mense in my lewe ontmoet wat nog net een keer in ‘n erediens was en dit was toe hulle as ‘n baba gedoop is en, hulle sal dalk nog een keer in ‘n diens wees, en dit sal hulle begrafnisdiens wees en dan sal dit in elk geval net hulle liggaam wees wat daar is.

Ek het ook al mense in my lewe ontmoet wat nog net twee keer in die kerk was. Die eerste keer was toe hulle as babas gedoop was en die tweede keer was toe hulle getroud is, en tensy hulle, hulle nie werklik tot ons Here bekeer nie, gaan die laaste keer wat hulle in ‘n kerk kom waarskynlik wees wanneer dit hulle begrafnisdiens is, en dan gaan dit net hulle liggame wees wat daar gaan wees, en tog spog al hierdie mense: “Ek is ‘n verbondskind.”

Ek myself het ook tot ‘n groot mate soos hulle geredeneer.

Net – ek het darem nog ‘n paar dinge gedoen wat baie van hulle nie eens gedoen het nie en dit het my dwaling nog veel groter as hulle sin gemaak, dit is nou as die een dwaling wel groter as die ander kan wees.

Ek was ook as baba soos hulle gedoop.

Ek het egter ook gekatkiseer.

Ek is ook aangeneem en voorgestel.  Al was dit omdat ek aangesê was om daardie pad te loop.

So, ek was darem ‘n hele paar keer in ‘n erediens gewees. ‘n Paar jaar later was ek ook weer in ‘n kerk om te trou omdat my aanstaande skoonouers dit so wou hê en terwyl ek daar gestaan het kon ek nie wag dat die dominee tog moet klaarkry met sy fieterjasies nie sodat ek daar kon uitkom nie. Dit was my laaste keer in ‘n kerk vir baie jare, tot die dag toe my broer met my, nie ‘n dogma nie, maar die Evangelie van Jesus Christus kom deel het.

Luister: Hulle sê dat 80% van die mense in Suid-Afrika Christinne is. In my boek is ‘n Christen ‘n dissipel / volgeling van Jesus. Iemand wat in liefde vir Jesus na die beste van haar/sy vermoë Hom volg, soos Hy gevolg moet word, en as sy/hy dit nie regkry nie, net harder daaraan werk om te probeer om dit wel reg te kry.

FIL 3:12 “ Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.”

Sou jy eerlik in jou hart sê dat 80% van die mense in Suid-Afrika dissipels van Jesus is?

Luister: ‘n Baie groot getal mense in Suid-Afrika en natuurlik in die wêreld is vanweë die een of ander, om dit so te stel, waardelose en/of goedkoop evangelie wat aan hulle voorgehou was of nog steeds aan hulle voorgehou word, salig onbewus daarvan dat hulle op pad hel toe is.

‘n Baie goeie voorbeeld van ‘n goedkoop evangelie, na my mening is byvoorbeeld die “prosperity” evangelie. Ek sê nie jy gaan nou, as jy gedoen het wat ek hierbo genoem het, en wat in (HAN 2:37-39) vir ons, om dit so te stel, opgesom is, skielik soos ‘n heilige lewe nie, maar ek sê verseker vir jou dat as jy, en jy alleen, werklik vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en nie dat iemand anders dit deur die een of ander seremonie namens jou gedoen het nie, gaan jy nie meer hou van die sondige manier waar volgens jy gelewe het nie, en dit gaan jou so pla dat jy stelselmatig daarvan in jou lewe ontslae gaan raak.

Daar sal maar altyd die valse bekeerlinge onder die kinders van ons Here wees. Want daar sal altyd  mense wees wat die een of ander maklike, goedkoop en/of waardelose Evangelie verkondig om dit vir mense maklik te maak om lippetaal bekeerlinge van hulle soort evangelie te word. Daarom sê Jesus ook:

MAT 7:21 “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.”

So, hulle sal altyd daar wees, maar jy hoef nie een van hulle te wees nie.

Nou sê ek natuurlik nie dat jy op pad hel toe is omdat jy byvoorbeeld as baba gedoop is nie. Maar ek sê verseker vir jou dat jy nie moet aanvaar dat jy op pad Hemel toe is vanweë iets wat jou ouers of iemand anders vir jou, of met jou, gedoen het nie. Natuurlik ook nie omdat jy baie godsdienstig is of ‘n mooi lewe lei nie. Dit is gewoon net nie die waarheid nie.  ‘n Ware bekering het hierdie heerlike groot uitstaande kenmerk in die bekeerde se hart en lewe. Daar begin ‘n verandering in haar/sy lewe kom.

Alles wat vir ons Here se Heilige Gees nie aanvaarbaar is nie, raak jy stelselmatig van ontslae. Ek sê stelselmatig, want vir die meeste van ons is dit nie, om dit so te stel, ‘n Damaskis ervaring, soos vir my groot held Paulus nie.

Ek, byvoorbeeld, om net twee van die dinge in my lewe te noem wat dadelik vir my ‘n groot probleem was: ek kon nie dadelik ophou rook nie, maar dit het my bly hinder totdat ek dit uiteindelik kon los; en ek moes nog langer aan my humeur gewerk het.

Dit moet die geval met alles in jou lewe wees wat nie vir ons Here se Heilige Gees aanvaarbaar is nie.

Hoe weet jy wat nie vir ons Here aanvaarbaar is nie? Bestudeer die Woord dikwels, soos in daagliks.

Bid/gesels daagliks met ons Here en luister na Sy stem in jou hart. Omring jou met mense wat die vrugte van die Gees dra en strewe self om dit ook in jou lewe gestalte te laat kry.

Jesus sê.

MAT 7:15 “Pas op vir die vals profete.  Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammertjies maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe.

MAT 7:16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af, of vye van dissels nie.

MAT 7:17 ‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.

MAT 7:18 ‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie.

MAT 7:19 Elke  boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

MAT 7:20 So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.

MAT 7:21 “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.”

Hoe lyk hierdie vrugte waarvan Jesus praat wat ons moet dra om die Wil van ons Here te kan doen?

GAL 5:22  “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Daar is baie mense wat net deur lippetaal Jesus aangeneem het.

As jy egter Jesus werklik aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, is Sy Gees inwonend in jou en dan sal die dinge wat afstootlik vir Sy Gees is, ook vir jou afstootlik wees en sal jy stelselmatig daarvan ontslae raak en dit wat jy nog nie van ontslae kon raak nie, sal vir jou ‘n groot probleem bly totdat jy ook daarvan ontslae geraak het.

Jy sal ook ‘n groot begeerte hê om al die vrugte van die Gees in jou lewe gestalte te laat kry en jy sal verseker nie ‘n passiewe Christen wil wees nie.

Ten slotte. Die Woord sê:

JHN 1:12  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.”

As jy werklik Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, is jy Sy kind, met ander woorde, jy is deel van die familie van Jesus. Jy is eintlik nog veel nader as dit, jy is deel van God se gesin, want jy is Sy kind en as jy tot hier gelees het sal jy weet of jy werklik ‘n kind van God is en as jy nie is nie, sal jy nou weet wat om te doen om ook deel van die wonderlike gesin van God te word.

Mag dit vir jou ‘n heerlike dag wees.

Groete,
Sakkie